Local news

Stigterslid van VLU Rensburg laat blywende nalatenskap

Tannie Betty was vir dekades ’n stil steunpilaar in haar gemeenskap en bekend vir haar sagtheid, luisterende oor en liefdevolle hart. Haar nalatenskap leef voort in elkeen wat sy geraak het.

Heidelberg het op 30 Julie ’n geliefde inwoner en saggeaarde siel verloor.

Elizabeth Magdalena Otto, beter bekend as Tannie Betty, is ná ’n moedige stryd teen kanker in die ouderdom van 84 jaar oorlede.

Sy het ’n onuitwisbare indruk op haar gemeenskap, familie en vriende gelaat – ’n nalatenskap van liefde, luister en diensbaarheid.

Tannie Betty is op Sundra gebore en het van kleins af haar voete in Heidelberg geplant. Sy het twee kinders,

Amanda en Lucas, met liefde en toewyding grootgemaak.

Op 66-jarige ouderdom het sy haar lewensmaat, Cornelius Johannes van der Merwe, aan die dood afgestaan. As weduwee het sy haar pad verder gestap – altyd met waardigheid, stilte en innerlike krag.

Betty van der Merwe was die stigsterslid van die VLU Rensburg-tak.

Haar dogter Amanda Last beskryf haar ma as ’n vrou van buitengewone geduld en sagmoedigheid.

“Al was iemand hoe onaangenaam, het sy altyd hoflik en met respek gereageer. My ma het nooit terug naklei nie. Haar kalmte was haar krag.”

Musiek het ’n spesiale plek in haar hart ingeneem. Sy het uitgesien na optredes soos operettes of Orpheum-produksies, en dit met kinderlike opgewondenheid geniet. Tuis was haar hande altyd besig met brei-, hekel- of borduurwerk.

Ondanks sperdatums en pligte het sy altyd tyd gemaak vir ander.

“Wat jou probleem ook al was, jy kon by haar gaan sit en raad vra. Sy het altyd geluister,” sê Elmarie Eygelaar, mede-lid van die VLU Rensburg-tak.

Vir baie was Tannie Betty ’n veilige hawe – ’n stil biegmoeder by wie mense hul hart kon uitpraat. Sy het nooit geoordeel nie, en wat in vertroue gedeel is, het daar gebly. Haar vermoë om te luister sonder oordeel het haar ’n rots in die gemeenskap gemaak.

Betty van der Merwe was meer as 50 jaar ‘n getroue lid van die VLU.

Sy was ook een van die 14 stigterslede van die VLU Rensburg-tak, wat op 20 Maart 1973 tot stand gekom het in die NG Kerk se kerksaal. Vir meer as 50 jaar het sy getrou elke vergadering bygewoon en met toewyding aan maandelikse kompetisies en konferensies deelgeneem.

In die blomrangskik-afdeling het sy besonder goed gevaar. Sy het tydens die tak se 50-jarige viering op 11 Maart 2023 haar 50-jaar lidmaatskapsknopie met trots ontvang – ’n reuse-mylpaal wat sy met haar dogter Amanda gedeel het.

Jeanie Boshoff, ’n mede-VLU-lid, vertel met bewondering:

“Amanda het haar ma met soveel liefde en deernis na die VLU-vergaderings gebring en altyd by haar gesit. Al was sy self nie ’n lid nie, het sy haar ma ondersteun tot die einde. Daardie laaste vergadering was ’n gedenkwaardige oomblik – ’n laaste viering van Betty se bydrae aan ’n organisasie waarvoor sy soveel omgegee het.”

Kort daarna, in Oktober 2023, is sy met kanker gediagnoseer.

Amanda sluit haar huldeblyk af met woorde wat getuig van diepe waardering:

“Ek is dankbaar dat ek die voorreg gehad het om haar as my moeder te hê. Sy was perfek vir ons gesin.”

“Rus sag, Tannie Betty. Jy het ’n lewe vol liefde en betekenis geleef, en jou nalatenskap sal bly voortleef in elkeen wat jy geraak het,” was Eygelaar se woorde.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button