Ons Winkel, Heidelberg vier groei met tweede perseel en lojaliteitskaart
Die winkel bedank die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning en doen ’n beroep vir verdere skenkings.
Die gemeenskapsgees was aansteeklik toe Ons Winkel in Voortrekkerstraat op 2 Augustus hulle eenjaarherdenking van nuwe bestuur gevier het.
Dit was ‘n dag gevul met spesiale aanbiedinge, boereworsrolle, prystrekkings en baie dankbaarheid.
Sedert Patricia Meyer in Julie 2024 as mede-eienaar oorgeneem het, het die winkel merkwaardig gegroei. Dit is nou só groot dat dit nou twee aparte persele beslaan; een vir klere en een vir meubels.
Hierdie uitbreiding is ’n bewys van die gemeenskap se ondersteuning en die toenemende gewildheid van tweedehandse inkopies, oftewel ‘thrifting’.
“Hoe meer die winkel groei, hoe meer mense en gesinne kan ons help,” het ’n dankbare Meyer gesê.

Ons Winkel is die liefdadigheids-tweedehandse winkelnetwerk van Solidariteit Helpende Hand, met takke regoor Suid-Afrika.
Die winkels aanvaar en verkoop enige skenking om verskeie gemeenskapsopheffingsprojekte en studiehulp vir studente in nood te befonds.
“Ons is diep dankbaar teenoor elke skenker, koper en borg wat hierdie droom saam met ons deel,” het Meyer gesê.
Ons Winkel Heidelberg het Saterdag ook hul lojaliteitskaart bekendgestel. Dit is ’n nuwe manier waarop gereelde klante beloon word vir hul ondersteuning.

Penny Bamine, bestuurder van Ons Winkel Heidelberg, het vertel dat meer mense “thrifting” ontdek en die waarde daarin sien om by ’n tweedehandse winkel te koop. Bamine, wat die winkel die afgelope jaar bestuur het, sê hulle kliëntekring groei daagliks.
“Dit gaan nie net oor goedkoper pryse nie, maar hou ‘n verskeidenheid voordele in,” het Bamine vertel.
“Tweedehandse klere en meubels kos ’n fraksie van hul oorspronklike prys. Elke herwonne item help om afval te verminder en die lewensiklus van produkte te verleng.
“By Ons Winkels gaan alle inkomste na plaaslike behoeftes en projekte.”

Meyer het die borge bedank wat hulle gehelp het om hierdie verjaarsdagviering moontlik te maak.
Die sukses van die feesdag is moontlik gemaak deur ruim bydraes van JR Embroidery, El Shadai Printing, Braai Shack, Super Saver Bargains, Spur, en The Grill King.
“Ons is julle ewig dankbaar vir jul ondersteuning.”
Skenk en maak ’n verskil
Het jy meubels wat stof vergader of plek opneem?
Ons Winkel doen ’n beroep op die gemeenskap om bruikbare meubels te skenk, hetsy dit nou splinternuut of ‘n bietjie geskaaf is.
Hulle gratis afhaaldiens maak dit maklik om te skenk, en elke meubelstuk dra by tot hulp vir iemand in nood.
Skakel Hans by 069 176 4555 om jou skenking te reël.




