Local news

Hoër Volkskool oud-leerders se doktorsgrade plaas hulle op wêreldkaart

Twee trotse oud-leerders van Hoër Volkskool, het albei hul doktorsgrade voltooi en word nou internasionaal raakgesien vir hul navorsing en bydraes tot linguistiek en farmaseutiese wetenskap.

Die Hoër Volkskool is trots op twee van sy oud-leerders wat onlangs uitstaande akademiese prestasies gelewer het.

George de Bruin en Ruan Botha het albei hul studies met lof voltooi en onderskei hulle op internasionale vlak in hul onderskeie velde van toegepaste linguistiek en farmaseutiese wetenskap.

George de Bruin, ‘n matrikulant van 1992, het klassieke tale en teologie aan die Universiteit van Pretoria gestudeer.

Na sy studies het George die kommunikasiewêreld betree. In 2018 het hy ’n meestersgraad met lof voltooi in toegepaste linguistiek (psigolinguistiek) aan die Universiteit van Johannesburg.

Sy verhandeling, getiteld ’n Studie oor die aktiveringsproses van die mentale leksikon van tweetaliges, vertalers en tolke, is ook deur die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut as die beste M-verhandeling vir die jaar bekroon.

In 2025 het George ’n PhD in toegepaste linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg behaal, met ’n verhandeling getiteld Towards improved, patient-centred medicine information leaflets in South Africa through plain language. Dié proefskrif is reeds internasionaal in die kollig geplaas.

Verder dien George op die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waarvan hy ook lid is.

George is ook lid van die International Community Translation Research Group, wat in Wes-Australië gesetel is.
Hy het al verskeie eweknie-beoordeelde artikels en hoofstukke in akademiese joernale en handboeke gepubliseer, onder meer vir internasionale uitgewers soos Routledge.

Nog ’n oud-Volkie, Ruan Botha, ‘n matrikulant van 2000, het ook gewys waartoe hy in staat is.

Ruan Botha tydens die toekenning van sy doktorsgraad.

Hy het aan die Noordwes-Universiteit ‘n graad in aptekerswese voltooi. Hy het dit met ‘n meestersgraad in farmaseutiese chemie opgevolg.

Na waardevolle werkservaring by die Donald Gordon Mediese Sentrum het Ruan met sy doktorsgraad aan Wits begin.

Hy het in Julie 2025 sy doktorsgraad (PhD) in Gemeenskapsgesondheid behaal met as navorsingsonderwerp:

Occupational exposure to antineoplastic drugs and the development of tailor-made risk control strategies in South African pharmacies, onder leiding van professor Derk Brouwer en Gill Nelson.

Ruan is die outeur van vyf artikels in internasionale wetenskaplike joernale en het sy navorsing by verskeie internasionale kongresse, onder meer in Nantes (Frankryk), Dubrovnik (Kroasië), Kaapstad en Durban aangebied.

Hy is ’n lid van beide die Internasionale en Europese Verenigings van Onkologie-Aptekers, en dien ook as ad hoc-raadgewer vir die Suid-Afrikaanse Vereniging van Onkologie-Aptekers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button