Local newsSchools

Jong redenaars hou Afrikaans lewendig in Heidelberg

Die Applous Eisteddfod in Heidelberg bied jong leerders die kans om selfvertroue te bou, kreatiwiteit te ontwikkel en hul liefde vir Afrikaans deur drama, poësie en toesprake uit te leef.

Met die viering van Afrikaans se eeufeesjaar in volle swang speel jong redenaars ’n sleutelrol in die bevordering en behoud van die taal.

In Heidelberg dra die Applous Eisteddfod jaarliks by tot hierdie lewendige erfenis. Vir eienaar en hoofafrigter Lericia Janse van Rensburg, wat jong mense help om hul stem in Afrikaans te vind, is dit ’n saak van die hart.

“Afrikaans is my hartstaal. Dis die taal waarin ek droom, liefhet en leef,” het sy vertel. “Dis nie net ’n kommunikasie-instrument nie. Dit is ’n draer van identiteit, emosie en stories.”

Volgens haar gee redenaarskompetisies aan jong mense die kans om die taal nie net te gebruik nie, maar om dit kreatief te vorm en nuwe lewe daarin te blaas.

Juan Kühn het bewys hoe hy in sy taal, Afrikaans, kan redeneer en het tweede plek behaal by die interne rededaarskompetisie.

“Deur kreatiewe temas, humor en voordrag word Afrikaans nie net ’n vak op ’n klasrooster nie, maar ’n lewendige gesprek tussen oud en jonk. Elke keer as ’n leerder voor ’n gehoor staan en in Afrikaans hul standpunt inneem, bou hulle aan die taal se voortbestaan.”

Applous is ’n dinamiese dramaskool wat in 2023 in Heidelberg sy deure geopen het. Lericia, wat die afgelope twee jaar die eienaar en hoofafrigter is, het dit as ’n kreatiewe tuiste vir jong talent gevestig, met klasse wat fokus op drama, poësie, prosa, redenaars en selfvertroue op die verhoog.

Ná haar gesin onlangs na Pongola verhuis het, het dit aanvanklik gelyk asof die Applous-hoofstuk in Heidelberg sou eindig. Maar die leerders het eenvoudig geweier om drama prys te gee. Die oplossing was Applous Aanlyn.

Ludwig du Plessis is glad nie skaam vir ‘n verhoog nie en het die interne redenaarskompetisie gewen.

Vanaf vanjaar word klasse aanlyn aangebied, wat beteken dat leerders steeds een-tot-een-afrigting kan ontvang, maar met selfs meer persoonlike aandag en begeleiding. Lericia sien dit as ’n nuwe, opwindende hoofstuk wat haar visie vir Applous verder kan uitbrei en wat ook vir kinders buite Heidelberg toegang gee tot kwaliteit drama-onderrig.

Die Applous Eisteddfod, ’n hoogtepunt op Heidelberg se kultuurkalender, lok elke jaar deelnemers uit die streek. Dit bied ’n veilige en aanmoedigende ruimte waar jong mense selfvertroue kan bou, hul kreatiwiteit kan ontwikkel en hul liefde vir Afrikaans kan uitleef.

Die kompetisie sluit afdelings in soos formele toesprake, improvisasie, gedigte, dramauittreksels en ligte vermaak, alles beoordeel met terugvoer wat deelnemers help groei.

Dominique Steyn in aksie voor haar klas besig met voordrag

“Die mooiste vir my is om ’n skaam leerder aan die begin van die jaar te sien, en teen die einde van die eisteddfod straal hulle op die verhoog – in Afrikaans.”

Haar raad aan jong redenaars is eenvoudig maar kragtig: lees wyd, luister fyn, speel met woorde en oefen hardop.

“Hoe meer woorde jy ken, hoe groter is jou woordeskat. En moenie bang wees vir humor, beeldspraak of ’n bietjie drama nie; dis wat jou toespraak laat uitstaan. Onthou, mense luister nie net na wat jy sê nie, maar ook na hoe jy dit sê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button