Local news

Heidelberg se VLU Rensburg-tak leer oor besoedeling en volhoubaarheid

Die VLU Rensburg-tak het omgewingsbewustheid, geloofsbetekenis en kreatiwiteit saamgevoeg in ’n vergadering vol inspirasie.

Die VLU Rensburg-tak het op 12 Augustus tydens hul maandelikse vergadering drie gassprekers van The Biodiversity Company verwelkom.

Die organisasie werk om besoedelingsrisiko’s te voorkom en te bestuur, met ’n praktiese benadering wat alle rolspelers, sowel as die omgewing in ag neem.

Sarah Oxley, Catherine Mathye en Chelsea Whitfield het insiggewende feite gedeel oor die besoedeling van lug, water, grond en selfs lig.

Volgens hulle produseer Suid-Afrika jaarliks sowat 54 miljoen ton afval, waarvan slegs 10% herwin word.

Die res beland in riviere en grond, met ’n direkte invloed op landbou.

Die sprekers het spesifiek na Heidelberg se uitdagings verwys, insluitend opbouende rommel, onwettige storting, die verbranding van plastiek en rubber, plaagdoders met skadelike chemikalieë, en rioollekkasies.

Die VLU Rensburg tak het ‘n kers aangesteek tydens hul vergadering op 12 Augustus ter nagedagtenis aan een van hul stigterslede Betty van der Merwe wat onlangs oorlede is.

Hulle het inwoners aangemoedig om enige moontlike besoedeling by die toepaslike owerhede aan te meld en het praktiese wenke gedeel:

• Gebruik nie-giftige chemikalieë vir plaagbeheer.

• Beoefen volhoubare landbou.

• Neem deel aan gemeenskapskoonmaakprojekte.

• Gebruik plastieksakke spaarsamig.

• Rapporteer onwettige storting.

Na die inligtingsessie het die gasvrou Elmarie Eygelaar die leiding geneem.

Cathrine Mathye, Chelsea Withfield en Sarah Oxley van The Biodiversity Commpany by die VLU Rensburg vergadering op 12 Augustus waar hul insiggewende feite oor besoedeling gedeel het.

Daar is spesiaal aan tannie Betty van der Merwe, ’n stigterslid van die tak wat onlangs oorlede is, gedink.
’n Kers is ter nagedagtenis aan haar aangesteek.

Die voorsitter Susan Smit het ook ’n gehekelde kruis gewys – een van die items vir die opkomende kongres.

Die kruis het 30 horisontale steke, 13 vertikale steke en 33 tossels, elk met ’n besondere Christelike simboliek.

Die 33 tossels verteenwoordig Jesus se jare op aarde, die 30 horisontale steke sy stille jare tot die begin van sy bediening, en die 13 vertikale steke sy drie jaar van bediening en hemelwaartse roeping deur kruisiging, opstanding en hemelvaart.

Drie vroue van The Biodiversity Company het tydens die VLU Rensburg takvergadering op 12 Augustus insiggewende feite oor besoedeling gedeel.

Die kreatiewe deel van die dag het borduurwerk ingesluit op ’n klein hartvormige patroon wat in ’n sleutelhouer geplaas is, asook die bak van konfyt en verskeie brode wat deur medelede geproe en beoordeel is.

Die vergadering is afgesluit met kreatiwiteit, lekker kuier, en ’n blik op die volgende byeenkoms, naamlik Susan Coetzer se optrede op 9 September ten bate van die takfondsinsameling.

Vir meer inligting of om aan te sluit by die VLU Rensburg-tak, kontak vir Susan Smit by 084 568 2837.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button