Local news

Die geskiedenis van die lied Sarie Marais

Byna elke Suid-Afrikaner ken die melodie van Sarie Marais, maar min weet van die regte vrou agter dié ikoniese lied.

Sarie Marais is ’n lied wat byna elke Suid-Afrikaner iewers in hul lewe gesing het – om ’n kampvuur, in ’n saal, of saam met familie. Maar min mense ken die ware verhaal agter hierdie geliefde wysie.

’n Oud-onderwyser, Mauritz Hansen, deel die minder-bekende geskiedenis van Sarie Marais.

Die verhaal van Sarie Marais:

Sarie Marais se regte naam was glo Susara Margaretha (Sarie) Maré gewees.

Sy was die eerste dogter van Jacob Philippus Maré en Cornelia Susanna Jacoba Erasmus en is op die plaas Eendraght, Suikerbosrand, distrik Heidelberg, op 15 April 1869 gebore.

Haar pa was Jacob Maré, later ‘n lid van die uitvoerende raad van die Transvaal en na wie ‘n straat in Pretoria genoem was.

Jacobus Petrus Toerien.

Hierdie is dié Sarie Marais (eintlik Maré) wat in die wyk van die Mooirivier gewoon het, ook bekend as Tant Mossie, volgens die Suid-Afrikaanse Biblioteek katalogus-inskrywing AP.1998-227.

Haar ouers was Voortrekkers en het hulle in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig.

Die dorpie Heidelberg het toe nog nie bestaan nie. Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk Mooirivier bevind, waar die dorp Potchefstroom aangelê is.

In hierdie tyd was daar vyf wyke in Transvaal: Mooirivier (Potchefstroom), Magaliesburg (Rustenburg), Marico (Zeerust), Ohrigstad en Zoutpansberg (Pietersburg).

Suikerbosrand was in die wyk van Mooirivier geleë, wat gestrek het vanaf Potchefstroom tot die huidige Wolmaransstad en Makwassie.

Toe Sarie 16 jaar oud was, het sy vir Jacobus Petrus Toerien, ‘n verslaggewer van Di Patriot van die Paarl, ontmoet. Toerien was toe in Pretoria om ‘n onderhoud met haar pa te voer.

Hy het onder die skuilnaam Jepete in Ons Kleintje geskryf in sy hoedanigheid as subredakteur van Di Patriot.
Hulle is getroud en het 16 kinders gehad, van wie net 8 grootgeword het.

Toerien het by Amerikaners wat in Transvaalse myne gewerk het die liedjie Sweet Ellie Rhee gehoor, wat sy oorsprong in die Amerikaanse Burgeroorlog gehad het en deur Septimus Winner (Alice Hawthorne) geskryf is.

In die tydperk tussen die Eerste- en Tweede Vryheidsoorloë het Jepete die woorde vertaal en só sy vrou, Sarie Maré, verewig.

Die lied het aanvanklik ook nie al die versies en presies dieselfde woorde gehad as wat ons vandag ken nie. Maré het later weens ‘n drukfout Marais geword.

Sarie se laaste jare:

Sarie was ‘n diep godsdienstige vrou en selfverheerliking was totaal in stryd met haar nederige geaardheid.
Sy het altyd haar verbintenis met die lied stilgehou.

Na Jacobus se dood in 1920 het sy haar by haar dogters in Bloemfontein gaan woon. Sarie is op 22 Desember 1939 op die ouderdom van 73 jaar in armoede oorlede en in ‘n nederige ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Vrouemonument begrawe.

Op 10 Oktober 1995 is ’n grafsteen opgerig vir die vrou wie se naam nog deur die wêreld gehoor word. ‘n Doringboom is ook op die graf geplant om mense te herinner dat Sarie eens op ‘n tyd langs so ‘n boom daar onder by die mielies aan die Mooirivier gewoon het.

Waar die naam Sarie Marais oral gebruik was:

Sarie Marais.

• Teen 1899 was Sarie Marais alreeds ‘n treffer in Pretoria.

• In die Anglo-Boereoorlog het dit nie net gewild by die Boeremag geword nie, maar ook by ander soldate.

• Dit het later wêreldbekend geword omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste- en Tweede Wêreldoorloë gesing het.

• Die gewildheid het het só gegroei dat die Britse Royal Marines dit as regimentsmars aangeneem het. Hul opleidingskip is ook na Sarie Marais vernoem.

• Dit is ook die regimentsmars van Paraguay se seinerskorps.

• Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was ook Sarie Marais en duisende besoekers het in die Durbanse hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar.

• Die eerste Suid-Afrikaanse rolprent se naam was Sarie Marais. Die welbekende tydskrif Sarie het ook haar naam aangeneem.

• Op die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika op die verjaardag van mev Isie Smuts, vrou van die destydse premier, generaal Jan Smuts, het die sangeres Gracie Fields Sarie Marais gesing.

• In die Tweede Wêreldoorlog het ‘n buitestasie van soldate in Noord-Afrika die naam Sarie Marais Calling gehad.

• Die Suid-Afrikaanse Weermag is steeds lief om die mars op parades te speel, terwyl die Franse Vreemdelinge-legioen dit ook gebruik.

• Dit is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon) wat dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor het.

• In die 1930s is dit verkeerdelik op die Olimpiese Spele in Amerika as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.

• Duitsers het ‘n pienk roos met die naam Sarie Marais gekweek, en was voor die Pantserskool in Tempe, Bloemfontein geplant.

Bykomende inligting en verwysing: Wikipedia

Die Sarie Marais musiekblad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button