Local news

Heidelberger voltooi LLB-graad en inspireer vroue tydens Vrouemaand

Met geloof, deursettingsvermoë en die ondersteuning van haar gemeenskap het Lizelle Naudé van Heidelberg haar LLB-graad voltooi, ’n prestasie wat ander vroue inspireer om hul drome na te jaag, selfs te midde van uitdagings.

In die hart van Heidelberg woon ’n vrou wie se verhaal van deursettingsvermoë, geloof en gemeenskapsliefde ’n ligstraal is vir ander wat hul drome najaag.

Lizelle Naudé (33), ’n bekende gesig vir gebruikers van Practical Assistance saamrydiens, het onlangs haar LLB-graad aan UNISA voltooi, ’n prestasie wat haar nou na Klerksdorp neem om haar loopbaan in die regte te begin.

Tydens Vrouemaand het HERAUT by Lizelle gaan kuier om meer te hoor oor haar inspirerende reis van pendel-bestuurder tot regsprofessie.

“Ek het ’n liefde om met mense te werk en hulle te help,” het Lizelle vertel.

“Ek wil ’n groter verskil maak in mense se lewens, iets wat ek nou in staat is om te doen.”

Hierdie dryfkrag het haar gemotiveer om ’n drastiese loopbaanverskuiwing te maak, terwyl sy voltyds gewerk en deeltyds gestudeer het.

Die pad was alles behalwe maklik.

“Ek moes baie opofferings maak en my tyd goed uitwerk om ’n balans te kry. Sonder my ondersteuningsnetwerk, almal by Practical Assistance en my ma sou dit nie moontlik gewees het nie. My deursettingsvermoë, die moed wat ek myself inpraat en die Here se krag het my gedra.”

Lizelle vertel haar grootste inspirasie is haar pa.

“My pa het iets in my gesien wat ek jare terug nie kon raaksien nie en by Practical Assistance het oom Dawie en tannie Petro Kriel in my geglo, selfs wanneer ek gevoel het ek kan nie.”

Aan ander vroue wat voel hul omstandighede beperk hul drome, sê Lizelle: “Glo in jouself. Hou aan. Die pad is nie maklik nie, en dit kan jou op jou knieë bring, maar moet nooit opgee nie. Jy sien dalk nie dadelik ’n resultaat nie, maar agter elke negatiewe is ’n positiewe. Hou net aan veg, jy sal die vrugte pluk.”

As sy terugkyk, is Lizelle die meeste trots op die ondersteuning wat sy ontvang het.

“Practical Assistance sal altyd deel wees van my lewe. Oom Dawie, tannie Petro Kriel en Hesmarie West het my onder hul vlerk geneem. En my ma het alles opgeoffer om my droom waar te maak.”

Lizelle Naudé se verhaal is ’n bewys dat drome nie beperk word deur omstandighede nie, maar deur die geloof om aan te hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button