Kreatiwiteit en geselligheid kenmerk VLU Nigel se vergadering
Die vaardige demonstrasies het getoon hoe kuns en herwinning hand aan hand kan loop,van oulike Amigurumi tot glansryke papierkrale.
By die onlangse vergadering van VLU Nigel is die lede bederf met twee besonderse demonstrasies wat almal se kreatiwiteit aangevuur het.
Ansie Jonker het die lede verras met ’n insiggewende en vaardige demonstrasie oor Amigurumi-hekelwerk.
Amigurumi is ’n Japanse kunsvorm waarin klein items soos diertjies, poppies en selfs fantasiekarakters gehekel of gebrei word. Die woord kom van ami (om te brei of te hekel) en nuigurumi (’n opgestopte speelding).
Hierdie handgemaakte skeppings is wêreldwyd geliefd vir hul oulike voorkoms, sagte tekstuur en kreatiewe moontlikhede. Van beginners tot ervare handwerkers kan almal plesier vind in hierdie unieke kunsvorm.
Ansie het ook gewys hoe papierkrale gemaak word. Hierdie dekoratiewe krale word van repies papier vervaardig wat uit tydskrifte, koerante, geskenkpapier of selfs ou boekbladsye kom, wat elke kraal uniek maak.

Nadat die papier opgerol en vasgegom is, word dit met vernis geseël vir glans en duursaamheid. Hierdie tegniek is nie net bekostigbaar en kreatief nie, maar kombineer ook herwinning en kuns op ’n pragtige manier.
Die gasvrou, Mabel van Staaden, en die teedames, Anna-Marie Axer en Susan Valentin, is bedank vir hul moeite en aandag wat die byeenkoms besonder gesellig gemaak het.
Die VLU Nigel-tak nooi almal uit na die volgende vergadering op 11 September, waar Kitty Bronkhorst as gasvrou sal optree.
Vir meer inligting kan sy gekontak word by 072 459 1681.



