PRONTUIT: Geloof en musiek lei Heidelberger na nasionale erkenning
Vir Judith Kea is haar jongste oorwinning meer as net ’n toekenning – dit is ’n bevestiging van geloof, hoop en die krag van musiek.
Heidelberg se sangtalent Judith Kea is onlangs bekroon as die beste vroulike Gospelsanger vir haar enkelsnit Dans jy en die Engele.
Die toekenning plaas haar nie net op die nasionale verhoog nie, maar bring ook ’n diep geestelike oorwinning vir die kunstenaar.
“Ek was totaal oorweldig toe my naam aangekondig is,” vertel Judith.
“Ek het dadelik alle eer aan die Here gegee. Met oë vol trane moes ek mooi kyk waar ek loop op pad na die verhoog.”
Dans jy en die Engele is geskryf as ’n huldeblyk aan haar oorlede skoonpa.
Judith beskryf dit as ’n sagte fluistering van God tydens haar rouproses.
“Ek was bang vir die lied omdat dit so eerlik was.
“Ek het nie fondse gehad om dit klaar te maak nie en soms nie geweet hoe om voort te gaan nie. Maar ek het gehoor: ‘Walk by faith not by sight’ (‘Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie’). Elke besluit is voorafgegaan deur gebed, en die Here het deure oopgemaak.”
Vir Judith voel hierdie toekenning soos ’n bevestiging van God se plan met haar lewe. “Dit voel asof God ’n kroon op my kop gesit het en gesê het: ‘Kyk, jy is waardig. Kyk wat kan gebeur as jy My vertrou’.”
Sy vertel hoe sy lank nie waardig gevoel het om Gospel-musiek op te neem nie.
“Ek het vasgekyk teen my sondes en myself nie goed genoeg gevoel nie.
“Maar vandag weet ek dat die Here my nog altyd liefgehad het en Hy maak deure oop met die talent waarmee Hy my geseën het.”
Judith hou vas aan Hebreërs 11:1 en Jakobus 2:14 in haar kreatiewe proses: “Geloof is vir my alles. Sonder geloof is alles tot niet.”
Sy spreek ook groot waardering uit vir Rea le Roux en haar span wat platforms skep vir onafhanklike kunstenaars.
“Sy laat ons klein sterretjies helder skyn. Ek is haar ewig dankbaar.”
Vir Judith is gemeenskap en geloofsfamilie onmisbaar.
“Ons moet blom waar ons geplant is. Saam maak ons ’n groot verskil, al voel ons soms hoe klein.”
Haar grootste hoop is dat mense wat na Dans jy en die Engele luister, sal besef dat lewe broos is en liefde dringend uitgeleef moet word. lewe broos is en liefde dringend.
Oor die pad voorentoe sê Judith sy is ‘kinderlik opgewonde’ oor nuwe projekte en liedere.
“Die Here het letterlik die sluise van Sy seëninge vir my oopgemaak,” glimlag sy.
Met ’n stem en ’n hart gewortel in geloof, dra Judith nie net musiek nie, maar ook ’n boodskap van hoop, liefde en vasberadenheid.



