PRONTUIT: Volkskool matriek leerder kies koers na sukses
Huib Sprong van Hoër Volkskool Heidelberg is gekies as deelnemer in die gesogte Matriek van die Jaar kompetisie en droom nou daarvan om sy gemeenskap en skool landwyd trots te maak.
Huib Sprong, ‘n matriekulant van die Hoër Volkskool is gekies om deel te neem aan die 44ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie, aangebied deur die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Netwerk24/Volksblad.
Hierdie gesogte kompetisie, wat vanjaar matrikulante uit die Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Oos-Kaap en Wes-Kaap, verteenwoordig, beklemtoon nie net akademiese prestasie nie, maar ook sport- en kultuurtalent.
Huib sê dit was ’n opwindende gevoel toe hy gekies is.
Maar dit is nog net die begin. Hulle moet nog die top 25 kies en daarna die 14 finaliste. “Ek hoop natuurlik vir ’n plekkie daar.”
Die eindronde vind van 13 tot 15 Oktober in Bloemfontein plaas.
Uitblinkers wat dit tot die eindronde maak, kan uitsien na prysgeld van die Kovsie-Alumnitrust, Forvis Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, sowel as beurse van UV Studentewerwingsdienste en geskenke ter waarde van R15 000.
Huib is ’n veelsydige leerder en betrokke by byna elke faset van die skoollewe.
Hy dien op die Volkieraad, het as deel van die skoolkoor aan ATKV Applous deelgeneem, speel in die eerste tennis- én hokkiespanne en is ’n lid van die Sentraal-Gauteng tweekampspan.
Tóg hou hy sy akademiese werk in balans en het onlangs keuring ontvang om medies aan die UV te gaan studeer; ’n droom wat hy al lank koester.
Volgens hom speel Hoër Volkskool Heidelberg en sy onderwysers ’n onskatbare rol in sy sukses.
“Hulle het my altyd gemotiveer om na beter te streef en my die geleenthede gegee om myself te ontwikkel. Sonder hul ondersteuning sou ek nie hier gewees het nie.”
Huib beskryf dit as ’n voorreg om sy skool en gemeenskap op só ’n groot verhoog te verteenwoordig.
“Ek is geseën met baie talente, maar sonder die hulp van almal sou ek dit nooit kon beoefen of ontdek het nie. Dit is genoeg vir my om hulle te verteenwoordig en om verder gekies te word, sal net die kersie op die koek wees,” vertel hy.
Huib sê hy sal enige plek in die kompetisie as ’n groot prestasie beskou.
“As ek sou wen, sal die pryse en beurse my baie help met my mediese studies. Om deel van hierdie kompetisie te wees, is reeds ’n groot eer.”



