Local news

PRONTUIT: Jong vrou dra haar pa se nalatenskap van liefde voort

Die oudste dogter van oorlede Majoor Tolla Pieterse vertel hoe diensbaarheid en omgee nie net haar werk rig nie, maar ook genesing vir haar eie hart bring.

As een van Heidelberg se jong en insiggewende vroue dra Marla Pieterse nie net haar pa, oorlede Majoor Tolla Pieterse, se nalatenskap van diens en liefde voort nie, maar leef sy dit elke dag uit by die Heidelberg Outistiese Sentrum.

Marla het op 27 Augustus haar 20ste verjaarsdag gevier. Sy is die oudste dogter van Marie en die oorlede Majoor Tolla Pieterse en leef vandag die waardes omgee, diensbaarheid, en liefde vir mense wat haar ouers haar van kleins af geleer het.

Outisme is ’n ontwikkelingsversteuring wat mense se kommunikasie, sosiale vaardighede en gedrag beïnvloed.
Elke persoon met outisme is uniek. Sommige ervaar groot uitdagings, terwyl ander slegs ligte ondersteuning benodig.

Almal beleef en verstaan die wêreld op ’n ander manier.

Die Heidelberg Outistiese Sentrum bied ’n veilige en ondersteunende omgewing waar kinders met outisme volgens hul unieke behoeftes begelei word.

Hier ontvang leerders nie net onderrig nie, maar ook liefde, begrip en die geleentheid om hul volle potensiaal te bereik.

“Van jongs af het my ouers my gewys dat ware betekenis in die lewe lê in diens aan ander. Hulle het my geleer dat jy nie net vir jouself leef nie, maar dat jy ander se laste ligter moet maak,” vertel Marla.

Vir haar het die Heidelberg Outistiese Sentrum aanvanklik net soos ’n werkplek gelyk.

Maar dit het gou méér geword, ’n plek waar sy self genesing en hoop gevind het.

“Die kinders se opregtheid en klein oorwinnings het my eie hart aangeraak. Hier het ek geleer dat omgee nie net uitgaan nie, maar ook terugvloei.”

Die verlies van haar pa, ’n geliefde en gerespekteerde gemeenskapsleier, het haar roeping verder verdiep.

“My pa se dood was ’n pynlike keerpunt in my lewe. Dit het my herinner dat elke dag en elke kind kosbaar is. Hy het ons sterk grootgemaak en geleer om nooit op te gee nie. Vandag is my werk nie net ’n beroep nie, maar ’n geleentheid om met liefde in ander se lewens te belê.”

Marla sê sy dra haar pa se nalatenskap daagliks voort.

“Hy het ’n hart vir mense gehad, en ek probeer dit uitleef deur geduld, liefde en toewyding aan die kinders en hul families.”

Haar boodskap aan die gemeenskap is een van hoop en aanvaarding: “Elke kind is waardevol, ongeag hul beperkinge of uitdagings. Liefde en aanvaarding is sterker as vrees of stigma. Ons kan net saamstaan en verandering bring.”

Sy dra ook ’n persoonlike boodskap aan ouers en kinders: “Koester elke oomblik saam jou kinders. Wees daar vir hulle as hulle jou nodig het. Die lewe is kosbaar. Bring tyd deur saam jou ouers en kinders, want daar is mense wat alles sou gee om net nog ’n dag saam met ’n pa of ma te hê.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button