Local news

Ma en dogter word saam begrawe

In ’n emosionele huldeblyk deel Christelle Carver hoe haar ma en ouma haar gevorm het, en hoe hul nalatenskap van geloof, gasvryheid en onwrikbare liefde steeds voortleef.

Christelle Carver moes op 22 Augustus die ondraaglike taak verrig om beide haar ma en ouma te begrawe; twee sterk vroue wat groot spore in hul familie en gemeenskap gelaat het.

Op 30 Julie is Betty van der Merwe, stigterslid van die VLU Rensburg, op die ouderdom van 85 oorlede. (In die Heraut-uitgawe van 7 Augustus is hulde aan haar gebring as ’n vrou wat deur haar diens en toewyding ’n blywende nalatenskap in die gemeenskap gelaat het).

Tydens Betty se heengaan was haar dogter, Manda Laast, in die hospitaal.

Familie het besluit om die begrafnis eers te hou sodra Manda herstel het en kon bywoon. Tragies is Manda egter op 13 Augustus, kort nadat sy ontslaan is, ook oorlede. Sy was 66.

Vir Christelle Carver was dit ’n ondenkbare pad van verlies.

Manda Laast is kort na haar ma Betty van der Merwe se afsterwe ook oorlede.

“Om my ma en ouma saam te begrawe, is ’n pyn wat woorde nie kan beskryf nie,” het sy gesê.

Christelle onthou haar ma as iemand wat onwrikbaar liefdevol en betrokke was, en haar ouma as ’n pilaar van geloof en diens.

“My ma en ouma het my geleer om altyd ander eerste te stel en om nooit my geloof prys te gee nie. Hulle het die vrou wat ek vandag is, gevorm.”

Sy vertel van kosbare herinneringe van haar ma se sagte raad in moeilike tye en haar ouma se onuitputlike gasvryheid.

“Hulle was albei bakens van krag en liefde. Ek hoop die gemeenskap onthou hulle as vroue wat nie net vir hul familie nie, maar ook vir ander geleef het.”

Christelle vertel dat haar ma en haar ouma almal se “go-to” mense was vir iets.

Van projekte, tot ‘n verjaarsdag koek wat iemand vergeet het. Hulle het nooit iemand weggewys nie.

Om twee sulke belangrike vroue in haar lewe te verloor binne so ’n kort tyd was vir Christelle en haar familie die moeilikste twee weke van hul lewe.

“Ons huis is nou nie net stil of donker nie, dit is koud sonder hulle. Selfs nou, wanneer dit warmer is, maak ek my waterbottels warm, net omdat ek daardie troos steeds soek,” het sy vertel.

Van die lesse wat Christelle by haar ma en ouma geleer het is om nooit op te gee nie.

“Jy hou aan probeer, hou aan vashou, dat jy die dinge doen wat jy moet, want niemand gaan dit vir jou doen nie.
“Hulle het ons geleer om standvastig te wees, en onafhanklik, maar die son waarom ons hele wêrelde gedraai het is nou weg. Dit was te vinnig, te skielik, en ons moet nog plek kry om weer vas te hou,” het ‘n emosionele Christelle gesê.

Van Christelle se kosbaarste herinneringe aan haar ma en ouma is dat haar ouma altyd seker gemaak dat almal eet, en soms ‘n ekstra skeppie nagereg gebêre het vir later.

Betty van der Merwe en haar dogter Manda Laast is saam begrawe op 22 Augustus nadat Manda kort na haar ma se dood ook gesterf het.

“Ek wou nog by haar leer pampoenkoekies maak. My ma het op ‘n Sondagaand my hare vir my uitgeblaas wanneer ek klaar gestort het. Nie omdat ek nie kon nie, maar omdat ek daarvan gehou het. Dit het haar moeg gemaak, maar sy het nooit gekla nie. En sy sou my rug vryf met salf as ek seer gehad het, en dan net vasgehou het vir ‘n rukkie.”

Christelle beskryf haar ma en ouma as die beste mense onder die son, wat met oop hande gegee het aan die wat in nood was. Daar was altyd die die gevoel van ‘Kom na Ma se huis toe’ want almal was daar tuis.

“Ek, my broer, Reinart, my seun, Vivian en ons Oom Lucas voel steeds die leemte. Daar is ‘n gat in ons bestaan waar hulle soveel lig en liefde laat vloei het. Niemand was reg daarvoor nie, en dit sal ‘n baie, baie lang tyd wees voor enige iets naby aan normaal voel. Maar ons beweeg vorentoe, minuut-tot-minuut as ons moet, dag vir dag.”

Alhoewel Christelle en haar familie nou deur ’n pad van rou stap, is dit vir haar ’n troos dat haar ma en ouma nou saam in die Here se teenwoordigheid is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button