Selfoonfotografie: Praktiese wenke om jou foto’s te verbeter
Fotograaf Pieter Harmse deel sy raad oor hoe jy jou selfoon optimaal kan gebruik om skerp, kreatiewe en hoëgehalte foto’s vas te vang.
Die Heraut het ’n reeks van vier artikels van stapel gestuur om jou fotografievaardighede te slyp. Hiervoor het ons vier kenners genader om praktiese raad en wenke te deel.
In hierdie week se uitgawe word daar op selfoonfotografie gefokus.

Pieter Harmse deel sy kennis:
Toe die eerste selfone uitgekom het met kameras, was ek as fotograaf baie skepties daaroor.
Die kwaliteit van die foto’s was pateties, ’n verskoning vir ’n foto.
Ek het in elk geval ’n baie goeie, duur kamera met verskeie lense.
En waarom sou ’n mens tog nou ’n kamera wil hê wat deel uitmaak van die selfoon?
Is ’n foon se doel dan nie om oproepe mee te maak en boodskappe te stuur nie?
Maar soos wat tegnologie nie wag vir mense met beperkte visie oor selfone en kameras nie, het die innovering van selfoonkameras baie verbeter.

Vandag is ek sekerlik een van die mees toegewyde voorstanders van selfoonfotografie.
Wat sou die rede daarvoor wees?
Vir een het die tegnologie só verbeter dat dit baie moeilik is om die onderskeid te tref tussen ’n foto wat met ’n kamera geneem is en een wat met ’n selfoonkamera geneem is.
Die gemak van ’n kamera wat altyd by jou is – klein en kompak, wat sommer in die palm van jou hand pas – is onmiskenbaar.
Die gerief daarvan om dadelik daardie foto’s wat geneem is te kan redigeer en verbeter met sagteware wat op die foon beskikbaar is, maak dit nog aantrekliker.

Nog ’n voordeel is dat jy die foto’s onmiddellik, sonder die moeite om dit eers na ’n rekenaar te skuif, op alle sosiale media-platforms kan deel.
In kort: die gerief om al hierdie dinge net waar en wanneer jy wil te kan doen, maak dit soveel meer aantreklik.
Dit alles in ag geneem, sê ek nie dat selfoonfotografie nie 100% die beste antwoord is vir fotografie nie.
Vir dieselfde rede dat ’n VW Polo jou nie op ’n 4×4-rit sal neem nie, gaan jy dit oor die algemeen 95% van die tyd kan gebruik vir alledaagse vervoer na jou bestemmings.
Daar sal sekerlik altyd beperkings wees, maar die voordele weeg swaarder as die nadele.
Die beginsels van wat ’n foto ’n goeie foto maak, sal altyd dieselfde wees, maak nie saak watter vorm van fotografie jy volg of watter toestelle jy gebruik nie.

Komposisie, beligting en fokus – al hierdie riglyne bly belangrike aspekte om in ag te neem.
Sekere beperkings rondom selfoonfotografie bly egter belangrik wanneer die fotograaf foto’s neem.
Oor die algemeen is dit belangrik om nie te veel in te “zoom” wanneer jy ’n foto met die selfoon neem nie.
Die rede hiervoor is dat die kameralense op selfone baie kleiner en kompakter is as dié van ander kameras.
Daar is ’n beperking op die lens waar dit meganies kan “zoom”. Daarna begin dit digitaal “zoom”.
In kort beteken dit dat die sagteware van die foon pixels digitaal verwerk deur middel van algoritmes om die zoom moontlik te maak.
Die gevolg is dat die foto begin pixelateer; dit vorm sigbare blokkies, die gehalte daal en dit word steurend. Die foto is dus nie meer so mooi en skerp nie.
Nog ’n nadeel van selfoonfotografie is dat die flits (“flash”) van die kamera meestal die gehalte van die foto beperk en negatief beïnvloed.

Waar moontlik, moet die gebruik daarvan heeltemal vermy word.
’n Baie algemene fout wat gemaak word, en waaraan min selfoonfotograwe aandag gee, is dat die kameralens skoon moet wees.
Dit is baie maklik om vingervlekke op die lens te kry, wat veroorsaak dat foto’s nie mooi in fokus is nie.
Maak ’n gewoonte daarvan om altyd seker te maak die lens is skoon; vee dit sommer met die punt van jou T-hemp af voordat jy die foto neem.
Onthou ook dat die lens maklik kan krap. Sodra daar ’n krap op die lens is, sal elke foto bederf word.
Daar is kameralensbeskermers beskikbaar vir die meeste selfone. Dit is goedkoop en kan maklik vervang word wanneer dit gekrap word. Dit verseker dat die kwaliteit van jou foto’s hoog bly.

Eksperimenteer deurgaans met verskillende, interessante kamerahoeke.
Onthou: fotografie is ’n vorm van kuns. Hou aan eksperimenteer en geniet die ervaring.
Indien moontlik, sluit aan by ander fotograwe; die maklikste manier is om deel te word van ’n fotografieklub.
Daar sal jy ander mense ontmoet wat ook ’n passie het vir fotografie.
Almal deel graag hul kennis. Gaan beleef ’n tipiese klubaand om te ervaar hoe ander fotograwe se foto’s lyk.
Dalk besluit jy selfs later om by die klub aan te sluit en jou fotografie na die volgende vlak te neem.



