Kleurryke Lentefees bring Nigel bymekaar
Van smullekker kos tot vrolike speletjies het bygedra tot die sukses van die gewilde jaarlikse lentefees.
Met groot opgewondenheid is die gewilde lentefees op 30 Augustus by die Hervormde Kerk Nigel aangebied.
Die kleurryke feesgangers het teen 10:00 met groot geesdrif ingestroom. Jonk en oud het die verskeidenheid stalletjies geniet en almal het lekker saamgekuier.

“Dit was ’n dag waaroor ons baie dankbaar is. Ons het die gemeenskap se ondersteuning sterk gevoel en waardeer,” het Elna Höhner, organiseerder van die fees, gesê.

Besoekers het die dag afgesluit met ’n gevoel van tevredenheid, terwyl kinders die speletjies en ritte geniet het.
Die kerkraad het sy dank uitgespreek teenoor elke skenker en vrywilliger wat gehelp het om die fees moontlik te maak.

“Ons is dankbaar vir die gemeentelede se harte en bereidwilligheid. Hulle is die rede waarom ons fees jaarliks so ’n sukses is,” het Höhner bygevoeg.

Die lentefees, ’n hoogtepunt op die gemeenskapskalender, het nie net ’n fondsinsamelingsukses geword nie, maar ook ’n waardevolle geleentheid waar mense mekaar kon ontmoet en kuier.



