Local news

Kundige se raad: Meester die kuns van makro fotografie

Fotograaf Marissa Enslin gee praktiese wenke oor hoe om makro fotografie ten volle aan te wend.

Die Heraut het ’n reeks van vier artikels van stapel gestuur om jou fotografievaardighede te slyp. Hiervoor het ons vier kenners genader om praktiese raad en wenke te deel.

Fotograaf Marissa Enslin deel haar raad oor hoe elkeen hul makro fotografie tot die beste kan aanwend om pragtige, hoëgehalte foto’s vas te vang.

“Fotografie is my passie en ek glo almal in die area ken my al met my kamera. Ek gaan nooit sonder my kamera enige plek toe nie. Ek glo dat ’n goeie fotograaf nooit sonder sy of haar kamera is nie,” sê Marissa.

Sy vertel dat sy haar fotografie-loopbaan met filmkamers begin het. “Dit was al donkie jare terug. Ek onthou ons was een dag in Parys. Ek het net aanhou foto’s neem. As ek reg onthou, was dit ’n film wat 36 foto’s kon neem. Toe ek by die huis kom, het ek nooit ’n film in die kamera gesit nie en die teleurstelling was regtig groot.”

Sy deel ook haar leerervaringe: “Ek het eendag vergeet om my kamera se battery uit die laaier te haal. Toe ek wou begin om foto’s te neem, het die kamera nie gewerk nie. Maak dus seker jy het al jou toerusting ingepak voordat jy op ’n uitstappie of fotosessie gaan, veral as jy na ’n plek gaan waar jy nog nooit was nie.”

Fotografie-belangstellings

Makro fotografie: ‘n Spinnekop wat ‘n vlieg op ‘n blom vang.

“Ek is baie lief vir makro fotografie, maar neem ook ander tipe foto’s. Diere en natuur is volgende op die lys, dan doen ek portrette en modelfoto’s. Ek het ’n kursus deur die New York Institute gedoen net nadat ek begin werk het, maar ek het myself verder geleer. Die belangrikste is hoe jy die foto sien en daarvan hou. Ek het my 2 Diamant-gradering deur PSSA voltooi.”

Makro fotografie

Makro fotografie: Die afneem van druppels op blomme sorg vir ‘n besondere foto.

Marissa se raad vir makro fotografie is soos volg: ’n Makro-lens is verkieslik, maar as jy nie een het nie, gebruik wat jy beskikbaar het. Standaard makro-lense sluit 50mm, 55mm, 60mm, 85mm en 100mm in. Sommige kameras het ook zoomfunksies. Makro fotografie fokus gewoonlik op insekte, blomme of baie klein onderwerpe.

Maak seker jou agtergrond is skoon en sonder steurende voorwerpe. Agtergronde is baie belangrik. Stel jou kamera op Aperture-priority of gebruik die manual mode. Gebruik ’n driepoot vir skerp foto’s.

Verkieslik gebruik die grootste f-stop wat jou kamera kan stel, en stel jou ISO op 100–200. Stellings kan verskil volgens persoon en omstandighede.

Jou diepte van veld moet so klein as moontlik wees, en sluiterspoed wissel na gelang van die effek wat jy wil hê. Makro-filters en eksterne lig of flits kan gebruik word om lig te verbeter. Reflectors help om meer lig op die onderwerp te kry.

Kreatiewe wenke

Makro fotografie: Die neem van dier oë in makro fotografie is baie gewild

As jy binnenshuis fotografeer, speel met agtergronde. Ligblou of grys kan die onderwerp laat uitstaan.

Hoe nader jy aan die onderwerp is, hoe makliker kry jy skaduwees.

Fokus op kleiner besonderhede soos pampoene, blare of ander teksture.Gebruik die kleinste aperture en ’n driepoot vir maksimum diepte van veld.

Naby fotografie kan alledaagse voorwerpe interessant laat lyk, insluitend vrugte, blomme, blare en selfs juwele.
Oë kan ook gefotografeer word, selfs die klein besonderhede soos aartjies in die oog met die regte kamera en lens.

Redigering en reëls

Makro fotografie: Die neem van druppels op blare is altyd ‘n aantrekking.

Fotoklubs het reëls vir redigering. In die natuur mag jy net ‘crop’ en beligting aanpas. Niks mag verwyder word nie. In die ope afdeling kan jy alles verander soos jy wil.

Die reël van derdes is belangrik in makro fotografie.

As jy nie deel van ’n klub is nie, kan redigering jou kreatiwiteit aanvul.

Hou dit eenvoudig en fokus op die onderwerp om die agtergrond te verminder. Laat die onderwerp uitstaan. Moenie die natuur beskadig nie wanneer jy in die veld fotografeer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button