Heidelberg Soldiers stoeiers verower medaljes by Klerksdorp-toernooi
Die Heidelberg Soldiers Stoeiklub het Klerksdorp se 50ste bestaansjaar-toernooi met sukses aangepak, met Wessel Oosthuizen as goue medalje wenner.
Die Heidelberg Soldiers Stoeiklub het op 13 September aan Klerksdorp se 50ste bestaansjaartoernooi deelgeneem.
Die plaaslike stoeiers het gewys dat hulle vir niemand terugstaan nie.

Die stoeiers wat deelgeneem het, is Lindi Oosthuizen, Tahlia Botha, Amieke Nortje, Mienke Botha en Wessel Oosthuizen.
Wessel het in die o10-33kg afdeling nie sy gelyke gehad nie en die teenstanders moes behoorlik bontstaan. Hy is met ’n goue medalje as die beste in sy ouderdoms- en gewigsklas aangewys.
Die twee o7 meisies, Lindi en Tahlia, het ook nie vir hulle teenstanders teruggestaan nie.

Beide het in die seunsafdeling gestoei. Lindi het die goue medalje verower terwyl Tahlia ‘n silwer medalje gekry het.
In die meisies-33 kg-afdeling het Amieke ’n silwer medalje verower.
“Ons is besonder trots op ons uitslae. Die stoeiers het hard gewerk en het gewys dat enigiets vermag kan word as dissipline, uithouvermoë en vasberadenheid deel is van hulle wapenuitrusting,” het die hoofafrigter, Dewald de Wet, gesê.
Persone wat meer inligting oor die stoeiklub wil bekom, kan De Wet kontak by 071 466 3397 of Leona Oosthuizen (hulpafrigter) by 082 399 4202.

Die oefendae is Dinsdae en Donderdae by Laerskool AG Visser.
Die eerste vier sessies is gratis.



