Feespret wag by Heidelberg se gewilde KameelFees
Met ’n optog, stalletjies, topkunstenaars en die ikoniese kameelresies, is die KameelFees een van Heidelberg se grootste hoogtepunte van die jaar.
Heidelberg skud weer sy vere reg vir een van sy mees geliefde tradisies wanneer die KameelFees op 26 en 27 September by Laerskool AG Visser plaasvind.
Ná ’n suksesvolle terugkeer in 2024, beloof die fees vanjaar nóg meer vermaak. Van die gewilde optog deur die dorp en die kameelresies tot topkunstenaars, akrobatiese vertonings, heerlike kosstalletjies en gesinsvriendelike aktiwiteite, die fees het iets vir almal.
Die fees skop af met ’n optog deur Heidelberg se sentrale sakegebied, waar inwoners die kamele van nader kan besigtig.
Die kamele beweeg daarna voort na Laerskool AG Visser, waar hulle vir die volle twee dae van die fees gehuisves sal word.

Daar word tans hard agter die skerms gewerk en die skool span alles in om aan die publiek ’n onvergeetlike ervaring te bied.
Daar wag ’n verskeidenheid stalletjies propvol lekkernye en unieke items, terwyl die jongspan kan uitsien na hope pret en vermaak.
Die program spog verder met topkunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Wentzel, Adam en Rooksein, wat oor die twee dae op die verhoog gaan skitter.
Bykomend tot die musiek is daar ook danse, akrobatiese vertonings en die hoogtepunt, die opwindende kameelresies.
In die namiddag van 27 September maak die replika van die Paul Kruger-standbeeld ook ’n draai by die fees as deel van sy reis na Orania, waar dit ’n nuwe tuiste gaan kry.
Ter ere van Kruger word die toneelstuk Kruger breek die pad oop deur NP van Wyk Louw ook aangebied.
Albert Bredenhann en Nastassja Ras is die seremoniemeesters vir die fees.

“Ons is opgewonde dat ons die KameelFees op 26 en 27 September gaan aanbied,” het die hoof van Laerskool AG Visser, Selma Marx, gesê.
“Ons neem veiligheidsaspekte ernstig op, sonder om afbreuk te doen aan die pret. Puik kunstenaars, uitstaande kindervermaak en watertandlekker eetgoed sal te koop wees.
“Uitsonderlike uitstallings van hoë gehalte rond ons fees ten volle af en ons hoop om almal daar te sien,” het Marx bygevoeg.
Kaartjies is vooraf by die skool kantoor beskikbaar maar kan ook by die hek gekoop word.



