Local news

Nigel Moedergemeente skud vere reg vir 90ste feesjaar

Die NG Kerk Nigel is besig om hul geliefde kerkgebou op te knap vir die gemeente se 90-jarige feesjaar in 2026

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Nigel is besig om alles in gereedheid te bring vir die gemeente se 90-jarige bestaansjaar wat in 2026 gevier gaan word.

Herstelwerk aan die kerksaal is in volle swang om die gebou op te knap vir die feesviering. Aan die buitekant van die saal vorder verfwerk en herstelwerk flink, terwyl die houtvloere ook aandag kry. Sekere dele van die vloer moet vervang word om dit volledig te herstel.

As deel van die opknappingsproses word die dak ook herseël.

Die kerkraad se droom is om die gemeenskap volgende jaar na ’n pragtig gerestoureerde saal en ’n spoggerige feesviering van die gemeente se 90ste bestaansjaar uit te nooi.

Om die vieringe af te skop, bied die kerk op 21 November om 18:30 sy jaarlikse Kers-, Vers- en Melodie-aand aan in die opgeknapte saal. Die Albertonse Mannekoor is die gaskunstenaars, en dit beloof om ’n uitmuntende aand te bied.

Daar sal ook ’n heerlike ete vanaf 16:30 aangebied word. Kaartjies is beskikbaar by die kerkkantoor, Kerkstraat 94, Nigel, gedurende kantoorure (Maandae tot Vrydae, 08:15 tot 12:30), of skakel 069 458 2235.

Opkanppingswerk aan NG Moedergemeente, is volstoom aan die gang.

Persone wat verkies om nie die ete by te woon nie en slegs die vertoning wil bywoon, kan deur middel van ’n kollekte ’n bydrae maak.

Die gemeente se kerkraad het sy dank uitgespreek teenoor almal wat deur die jare die gemeente ondersteun het.

“Vrygewige en omvangryke borgskappe maak dit moontlik om ons droom ’n werklikheid te maak. Baie dankie vir die borge wat ons reeds verkry het – sonder hul steun en hulp sou hierdie projek nie moontlik gewees het nie,” het ’n woordvoerder gesê.

Persone wat inligting oor die geskiedenis van die Nigel Moedergemeente het, asook oud-lidmate, word uitgenooi om na vore te kom.

Besoek die kerkkantoor tydens kantoorure of skakel 069 458 2235.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Eugene Viljoen

I am a person who likes to learn everyday and the more you live the more you learn, I love photography as it tells a story that words can not express. I love sports journalism.

Related Articles

Back to top button