Balfour Hengelklub lede vang 67 visse tydens maandelikse kompetisie
’n Totaal van 23 hengelaars het die eerste naweek van November by Rooibult deelgeneem en 67 visse met ’n gewig van 82.184 kg kant toe gebring.
Lede van die Balfour Hengelklub het tydens die eerste naweek van November aan die klub se maandelikse kompetisie by Rooibult deelgeneem.
Altesaam 23 lede het hul lyne in die water gegooi en uiteindelik 67 visse met ’n totale gewig van 82.184 kg uitgetrek.
In die seniors-afdeling het Koos Erasmus die beste gevaar met nege visse wat saam 14.405 kg geweeg het.
Tweede was Lukas Scholtz, ook met nege visse en ’n gewig van 9.920 kg, terwyl Heine Terblanche derde geëindig het met agt visse wat 9.110 kg geweeg het.
In die dames-afdeling het Riette Dercksen weereens bewys dat sy die voorste damehengelaar in die klub is. Sy het vyf visse ingekatrol met ’n gewig van 4.995 kg.
Tweede was Liza Goosen met twee visse wat 3.688 kg geweeg het, en derde Darell Roos met twee visse wat 2.279 kg geweeg het.
In die junior-afdeling het Kallie Kriel die oorwinning behaal met een vis van 1.645 kg.
Tweede was Jayden Nolte met een vis van 0.544 kg, en derde Zutika Nel met een vis van 0.368 kg.
Die swaarste visse van die kompetisie was:
Swaarste karp: Koos Erasmus (4.445 kg)
Swaarste baber: Liza Goosen (2.096 kg)
Swaarste moddervis: Sarita Scholtz (0.882 kg)
Swaarste geelvis: Johan Goosen (1.052 kg)
Die volgende kompetisie vind op 6 Desember by Biermans, Vaaldam, plaas.
Enige hengelaars wat belangstel om by die klub aan te sluit of meer oor die klub se aktiwiteite te wete wil kom, kan Lukas Scholtz by 084 757 6058 of Bennie Kriel by 079 888 6052 kontak.



