Local news

Geliefdes vier Dylan Bothma se 21ste verjaarsdag met hoop dat geregtigheid sal seëvier

Op wat ’n dag van vreugde moes wees, het ’n hartgebroke ma haar seun se 21ste verjaarsdag sonder hom herdenk.

Wat ’n vreugdevolle dag moet wees om ’n spesiale verjaarsdag van haar kind te vier, sal vandag (Saterdag, 15 November) ’n bitter hartseer dag vir Elsie Bothma wees.

In plaas daarvan dat sy haar seun, Dylan Bothma, se 21ste verjaarsdag saam met hom kan vier, sal sy en haar gesin, saam met ’n uitgesoekte groep mense, hom onthou en op verskillende wyses hulde aan hom gebring.

Dylan is op 25 Junie 2023 oorlede nadat ’n 16de verjaarsdagpartytjie wat hy op 24 Junie in Heidelberg bygewoon het, skeefgeloop het.

 Elsie Bothma vertel dat haar kind, Dylan liefdevol en saggeaard was en dit onder andere geniet het om vis te vang. Foto: Verskaf

Die HERAUT het sedert die tragiese voorval, wat Heidelberg se gemeenskap geskok het, verskeie kere daaroor berig.

Dylan se storie is ook deur die Carte Blanche-span ondersoek en uitgesaai.

Die klem bly steeds op die feit dat die skuldige persoon of persone nog nie aangekeer is nie.

Dit is juis dié wroeging waarmee sy hartgebroke ma elke dag steeds saamleef.

“Dylan leef nog elke dag in ons harte, en ek sal elke jaar sy verjaarsdag vier totdat ek nie meer op hierdie aarde is nie,” het Elsie gesê.

Elsie Bothma het gister (Vrydag) die plek besoek waar daar ‘n kruis en ander gedenkwaardighede vir haar seun opgerig is. Foto: Eugene Viljoen

“Ons weet wie die skuldiges is, en ons sal nooit ophou veg totdat daar geregtigheid vir my seun is nie,” het Elsie, wat steeds emosioneel raak wanneer sy oor haar geliefde seun praat, vertel.

“My seun is van ons weggeruk, en ons is die voorreg ontneem om spesiale mylpale soos sy 21ste verjaarsdag saam met hom te vier. Tog gaan die mense wat vir sy dood verantwoordelik is voort met hul daaglikse bestaan.”

“Hulle moet net weet dat ons nie sal ophou totdat daar geregtigheid vir my kind geskied nie.”

Verlede jaar, op Dylan se 20ste verjaarsdag, het ’n groep mense aan ’n vreedsame en emosionele optog deelgeneem, wat vanaf AG Visserstraat na Verdoornstraat plaasgevind het, waar die 16de verjaarsdagpartytjie gehou is.

Voor die huis het sy ma, Elsie, die hartverskeurende verhaal gedeel van hoe haar kind by die partytjie afgelaai is en die moontlike gebeure daarna tot hy die volgende oggend oorlede is.

Om sy 21ste verjaarsdag te vier het Elsie gister (Vrydag), op die plek waar daar ‘n kruis vir hom opgerig en ‘n boom geplant is, nuwe foto’s en gedenkwaardighede aan die boom aangebring.

 Dylan Bothma sou vandag (Saterdag,15 November) sy 21ste verjaardag vier. Foto: Verskaf

Sy is ondersteun deur ‘n groep nabye vriende, vrywilligers en voormalige werknemers.

Sy het tydens die geleentheid weer aan die HERAUT bevestig dat sy alles in die stryd werp om te sien dat die skuldiges aan die pen sal ry.

Vandag (Saterdag) gaan die viering van Dylan se 21ste verjaaarsdag voort, met geleenthede wat deur uitgenooide vriende en familie bygewoon sal word.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button