Jetour Alberton wen Heidelberg Rolbalklub se Lente Rolbal Besigheidsliga
Die volgende besigheidsrolballiga beloof weer opwindende wedstryde wanneer dit in Maart 2026 plaasvind.
Jetour Alberton is op 13 November gekroon as die Lente Rolbal Besigheidsliga kampioene.
Die besigheidsliga word twee keer per jaar deur die Heidelberg Rolbalklub aangebied.
Na ‘n paar weke se mededingende rolbal, waar verskeie spanne die kans gehad het om as wenners weg te stap, het Jetour Alberton koning gekraai.

Tot op die laaste ronde was dit nog ‘n naelbytstryd wat in enige rigting kon swaai. Met die laaste ronde het Jetour Alberton egter vasgeskop en stof in hul mededingers se oë geskop.
Die verskil tussen die wenspan en die tweede span was een punt.
Met Jetour wat as wenners gekroon is, het verskeie spanne hard geveg vir die ander podiumplekke.
Bendet Bowlers het tweede geëindig en Nissan Nigel 2 derde.

Die top-toucher van die toernooi was Jaun Venter van Stage Zero met agt touchers.
Hierdie seisoen het ‘n rekordgetal van 28 spanne deelgeneem, wat laatmiddag op albei bane onder ligte gespeel het.
Die spanne wat deelgeneem het, was: 3 Baconeers, Bendet Bowlers, Bendet Solid Workers, EHS Industries, Freestock Steel Traders, Heidelberg Hope, HHR Engineering, Howell Properties, Howell Social, MMG Motor Group, MMG Motor Group 2, Multivac 1, Multivac 2, Multivac 3, Re/Max, Suikerbosrand Makelaars, Stage Zero, Tigris Insure, Tigris Wealth, Imvubu Trading, Autocity Mahindra Heidelberg, Protek, Jetour Alberton, LCS Group, Autocity Nissan Nigel, Autocity Nigel Nissan 2, LCS Logistics, en Big Digs.

“Dit was ‘n goeie toernooi met straf mededinging tussen die spanne,” het Werner Schipper, bestuurslid van die Heidelberg Rolbalklub, gesê.
“Ons as bestuur sou die toernooi egter nie ‘n sukses kon maak nie sonder die gemeenskap en besighede se ondersteuning, die borg en elke speler wat met ‘n goeie gesindheid opdaag om te speel.”
Die volgende Rolbal Besigheidsliga sal in Maart 2026 plaasvind.




