Gesellige samekoms merk VLU Nigel-tak se suksesvolle jaar
Anna-Marie Axer het lede bedank vir hul opofferings en hulle aangemoedig om die Kersseisoen vol liefde en hoop te vier.
Lede van die VLU Nigel-tak het op 13 November ‘n gesellige jaareindfunksie geniet.
Die tafels is met sorg en styl gedek, ’n weerspieëling van die waardering vir elke lid se teenwoordigheid.
Die groep vroue het gesellig verkeer en nabetragting gehou oor die jaar en wat alles wat vermag is.
Planne en projekte vir die nuwe jaar is ook onder bespreking geneem, en sodra die nuwe jaar sy gesig wys, sal die groep entoesiastiese lede gereed wees.
Die voorsitter van die tak, Anna-Marie Axer, het almal bedank vir die jaar se opofferings wat hulle gemaak het.
“Ons moet gedurende die Kersseisoen oral liefde en hoop versprei,” het sy gesê.

PHOTO: Eugene Viljoen
“Om iets te vermag en sukses te behaal, moet jy sekermaak dat jy ‘n lig vir ander kan wees.
Welwillendheid, vriendelikheid en omgee kos niks nie, maar is meer werd as enige iets anders.
Ons moet nie net Kersfees in Desember vier nie, maar dit elke dag in ons dra,” het Axer gesê.
“Wees ‘n baken van hoop vir ander, en bo alles hoop ek elkeen het ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige 2026.”




