Inspirerende jong onderwyser word aangestel as adjunkhoof
Met ’n liefde vir wiskunde, sport en gemeenskapsbetrokkenheid, is Darryl Kinghorn ’n voorbeeld van hoe jong onderwysers ’n blywende impak kan maak.
Oudleerling en inwoner Darryl Dennis Kinghorn (32) van Heidelberg sowel as Nigel is pas aangestel as adjunkhoof van Laerskool Rayton.
Die Heraut het by Darryl gaan kersopsteek en meer oor hom uitgevind.
Hy het in sy jonger dae in Heidelberg grootgeword en sy laerskoolloopbaan by Laer Volkskool Heidelberg begin, voordat hy sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Jeugland voltooi het.
Na matriek het Darryl sy akademiese loopbaan aan die Universiteit van Johannesburg begin, waar hy sy BEd-graad in Wiskunde verwerf het. Vervolgens het hy aan die Universiteit van Pretoria sy Honneursgraad in Wiskunde behaal.
Laastens het hy by die African Academy sy tekenkundediploma ontvang.
“Ek het begin as onderwyser in my derde jaar by die universiteit. Na my studies was my eerste amptelike pos by Laerskool Kruinsig en ek is vir die afgelope 12 jaar in die onderwys.”
Plaaslik was Darryl van 2023 tot 2025 afdelingshoof by Laerskool Tini Vorster in Nigel.
In die skoolopset is sy passievak beslis wiskunde. Verder rig hy rugby af (Wêreld Rugb
y Vlak 1) sowel as atletiek (ASA Vlak 1 in naellope en hekkies).
Buitemuurs bring Darryl graag tyd op die golfbaan deur. Buiten golf is hy lief vir rugby en ondersteun die WP. In die Formule Een-motorwedrenne is Ferrari sy gunsteling.
Oor sy toekomsplanne sê hy dat hy eendag as skoolhoof wil dien en dat hy sal wil terugploeg waar hy grootgeword het.
Darryl deel ’n boodskap van aanmoediging wat almal moet onthou: wees ten volle jouself, want daar is niemand anders soos jy nie.



