Suikerbos Aftreeoord vier jaarafsluiting en stel nuwe komitee bekend
Suikerbos Aftree-oord het hul jaar in styl afgesluit met musiek, dankbaarheid en die bekendstelling van ’n nuwe komitee wat die oord na ’n hoër diensvlak wil lei.
Met die jaar wat sy einde nader, het Suikerbos Aftreeoord op 21 November hul jaareindfunksie in die dienssentrum gehou. Die bestuurder van die oord, Jannie Kotze, het almal verwelkom.
“Ons is dankbaar vir elke inwoner wat in die oord woon en saam ’n hegte familie vorm,” het hy gesê.
“Ons moet elke dag ten volle leef. Liefde, sorg, veiligheid en omgee moet deel van jou daaglikse lewe wees.”
Daar is tans ongeveer 300 inwoners wat in Suikerbos Aftreeoord gehuisves word. Met die hulp van weldoeners, waaronder Albert Grobler, is ’n volledige bystandwaterprojek voltooi om te verseker dat daar altyd water beskikbaar is in die aftreeoord.

PHOTO: Eugene Viljoen.
Daar is ook twee spesialisdienste bygevoeg, die Hospice en die Dementia-eenheid.
Die Hospice-dienste is onlangs geouditeer, en die kans is goed dat dit ’n vierster-Hospice vir die inwoners sowel as die Heidelberg-gemeenskap sal wees.
Na die openingsrede het Chris Coetzer, een van Suid-Afrika se drie tenore, die gaste vermaak met sy humor, stories en veral sy musiek. Hy het verskeie bekende liedere gesing en die gehoor behoorlik vermaak.

Suikerbos Aftreeoord het nog een opvoering vir 2025. Op 5 Desember tree die Elkana Koor op, waar die Kersboodskap-optrede die jaar sal afsluit. Die optrede begin om 10:00 in die dienssaal.
Tydens die geleentheid het Jannie Kotze ook die eerste komitee vir Suikerbos Aftreeoord bekend gestel. Die komitee se visie is om die oord op ’n hoër diensvlak te plaas.
Die komitee is: voorsitter: Dr Johan Lockem, ondervoorsitter: Nico van Heerden, sekretaresse: Riana van Jaarsveld, gesondheid en sorg: Pieter Visser, sosiale aktiwiteite: Elize Verster, kommunikasie: Riana van Jaarsveld en Marlene Walkden, infrastruktuur: Dr Johan Lockem, veiligheid en sekuriteit: Gerhard Brits en geestelike en emosionele welstand: Dr Johan Lockem.



