Helpende Hand se gemeenskapsprojek gee kinders ’n sterk begin
Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak werk hard om elke leerder gelyke geleenthede te bied, van skoolbehoeftes tot rentevrye studielenings.
Die Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak is aktief in die gemeenskap en werk daaraan om te verseker dat elke leerder gelyke geleenthede het in laerskool, hoërskool of verdere studies.
Onder die leierskap van voorsitter Patricia Meyer, het die Heidelberg-tak 400 tasse vol skoolbehoeftes saamgestel wat in die Oos-Rand aan behoeftige kinders uitgedeel gaan word.
Die skooltasse is toegerus met skryfbehoeftes asook ‘n Bybel.
Helpende Hand het ook ‘n studietrust waar hulle naskoolse studente help om verder te studeer.
Die studietrust word befonds deur die verkope by die Ons Winkels waar die geld aangewend word om die studiefonds te befonds.
“In 2025 het die Studietrust ‘n rand-vir-rand kompetisie met die streeksgemeenskapstudiefondse aangegaan, asook ‘n top-vyf kompetisie met die tak-gemeenskapstudiefondse wat die meeste groei vir 2025 getoon het,” sê Meyer.
Die takke het egter so gewoeker om fondse in te samel om studente te ondersteun dat daar besluit is om nog ‘n kategorie by te voeg.
Die toptak wat uitgestaan het was die Oos-Rand Gemeenskapsstudiefonds, gevolg deur KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Noord-Gauteng, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Oos-Kaap, Platinum, Sentraal, Vrystaat, Wes-Rand en Vaal Driehoek gemeenskapstudiefondse.
Die Heidelberg-tak het self R115 000 ingesamel vir die studietrust wat oorbetaal is aan die Danie Meyer Studiefonds.
“Met elkeen wat deel was van hierdie kompetisie, is daar meer studente wie in 2026 met ‘n rentevrye studielening sal kan studeer. Elkeen se harde werk het vrugte afgewerp, en hoe wonderlik die wete dat al hierdie fondse aangewend word om drome te bewaarheid. Dit is meer as ‘n lening, dis ‘n toekoms!” sluit Meyer daarmee af.
Persone wat betrokke wil raak by Solidariteit Helpende Hand kan Meyer by 083 305 3577 skakel.



