Verskeie toekennings vir plaaslike Ons Winkel
Ons Winkel Heidelberg se groei word bekroon
Solidariteit Helpende Hand het op 5 Desember sy jaarlikse gala-aand gehou vir al die Ons Winkels landswyd wat onder die organisasie se vaandel val.
Daar is ongeveer 1 300 vrywilligers in 230 takke landswyd wat hulle tyd opgee om ‘n impak in hul gemeenskappe te maak.
In 2025 het vrywilligers R7,6m ingesamel en aan verskeie takprojekte spandeer.
Die Helpende Hand Heidelberg-tak onder leiding van die voorsitter Patricia Meyer het gedurende die jaar gewys wat in hulle steek en dat hulle nie vir geen ander tak terugstaan nie.

PHOTO: Verskaf.
Tydens die gala-aand het die Heidelberg-tak en die Oos-Rand met die volgende toekennings weggestap:
• Beste omsetgroei per kategorie (silwer). Heidelberg se Ons Winkel het ‘n groei van 127% in 2025 beleef. 2024 se wenner was Brackenfell gewees.
• Nasionale omsetgroei met meer as 20%.
• Beste omsetgroei 2025 (kategorie Silwer).
• Beste algehele omsetgroei 2025.
• Omset gevorder na die silwerkategorie vanaf oranje.
• Beste sosiale media 2025 (Oos-Rand streek).
• Beste spanspeler 2025.

“Ons het dit nie verwag nie. Ons kon dit nie sonder die gemeenskap se bystand gedoen het nie. Ons is dankbaar vir elke gemeenskapslid wat hul hande na ons toe uitgereik het deur die jaar. Dankie aan almal wat ons daagliks ondersteun,” sê Meyer.



