Kameras klik weer by Heigel Fotoklub
Meer as 50 foto’s is beoordeel toe Heigel Fotoklub hul nuwe jaar met sterk deelname, nuwe planne en kreatiewe inspirasie afgeskop het.
Die Heigel Fotoklub het op 14 Januarie sy eerste vergadering van die nuwe jaar gehou.
Die klubvoorsitter, Dawie de Villiers, het lede ná die feesseisoen terug verwelkom.
“Ek sien daarna uit om elke fotograaf se groei hierdie jaar te sien en glo ons gaan die klub na nuwe hoogtes lei,” het De Villiers gesê.
“Ons wil vanjaar groot gaan en wys wat in ons steek. Verskeie uitstappies en fotodae is reeds in die beplanning.”
Tydens die eerste vergadering van die jaar het lede sowat 50 foto’s ingeskryf, wat deur beoordelaars bespreek is en waaruit die beste foto’s aangewys is.
Die voorgeskrewe tema vir die maand was tafelblad- of stillewefotografie.

Daar is ook verskeie ander kategorieë waarin fotograwe kon inskryf, insluitend natuur, voëls, ope, portrette, swart-en-wit, sport en joernalistiek, geboue en meer.
Die wenners is:
• Voorgeskrewe temawenner (tafelblad/stillewe): Purple Perfection deur Monica van der Merwe
• Beste algemene wenfoto: Voeding deur Nicolaas Smith
• Beste junior wenfoto: Tiger met waaksame blik deur Rienie van der Walt
Die voorgeskrewe tema vir Februarie is leidende lyne.

Die klub beplan ook om hul groot geleentheid in Maart aan te bied, waar die nuwe bestuur vir die jaar aangewys, meriete-sertifikate uitgedeel, en die beste fotograafvordering sowel as die fotograaf van die jaar aangekondig sal word.
Enigiemand wat belangstel om by die klub aan te sluit of meer oor fotografie wil leer, kan die voorsitter, Dawie de Villiers, kontak by 084 600 5765.
Die volgende vergadering sal op 11 Februarie plaasvind.




