Die nalatenskap van Heidelberg se eerste magistraat Frederik Korsten Maré
As Heidelberg se eerste magistraat het Frederik Korsten Maré ’n sleutelrol in die dorp se administratiewe en kerklike ontwikkeling gespeel.
Met Heidelberg se ryke geskiedenis word die naam Frederik Korsten Maré onlosmaaklik met die dorp verbind.
Maré was die eerste magistraat van Heidelberg en het ’n groot rol in die administratiewe en kerklike ontwikkeling van die gebied gespeel.
Frederik Korsten Maré is op 27 November 1821 in die Uitenhage-distrik gebore.
Hy was een van 17 kinders van Paulus Jakobus Maré en Johanna Magdalena Maré. Sy familie was reeds vroeg betrokke by die openbare lewe; sy oom, Dietlof Siegfried Maré, was magistraat in Zoutpansberg en ook ’n lid van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).
Maré het sy skoolopleiding in die destydse Port Elizabeth voltooi. Ná skool het hy eers na die Kaapkolonie verhuis en hom later in Pietermaritzburg gevestig.
Hy is aanvanklik met Gertruida Margaretha getroud. Ná haar afsterwe is hy in 1845 met Johanna Josina van Niekerk getroud. Johanna is op 27 November 1827 in Graaff-Reinet gebore. Uit dié huwelik is 10 kinders gebore.
Die Maré-gesin het in 1859 na die Transvaal verhuis. Frederik Maré is in 1861 as magistraat in Pretoria aangestel en het in 1864 as ouderling by die Nederduitse Hervormde Kerk in Pretoria gedien. In dieselfde jaar het hy as ouderling bedank en ’n pos as waarnemende magistraat in Wakkerstroom aanvaar.
In 1866 is Maré as magistraat van Heidelberg aangestel. Die eerste huwelik wat hy in hierdie hoedanigheid bevestig het, was dié van Willem Adriaan Smit en Jacomina Hendrina Viljoen op 20 Oktober 1866.
Na die anneksasie van die Transvaal in 1877 het Maré geweier om ’n eed van lojaliteit aan die Britse owerheid af te lê en het hy in 1878 as magistraat bedank. Ná die ondertekening en bekragtiging van die vredesooreenkoms in 1881 het die geleentheid weer ontstaan om diens te doen, en hy is in 1882 as magistraat heraangestel.
Maré was ’n sterk voorstander van die Nederduitse Hervormde Kerk en het hom in 1885 uitgespreek teen die samesmelting van die Hervormde Kerk met die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
Frederik Korsten Maré is op 4 Januarie 1895 oorlede en is begrawe in die Heldesakker van die Heidelberg-begraafplaas. Heidelberg het sy nalatenskap vereer deur ’n straat na hom te vernoem. Verder in dié straat is ook die Maréstraat-laagwaterbrug, wat oor die Blesbokspruit strek.
Verwysings:
• Heidelberg Methodist Argiewe; Heidelberg Heritage Association Argiewe; Wikipedia



