Heigel Fotoklub vier fotografiese talent
Sportfotografie het die kollig gesteel tydens Heigel Fotoklub se jongste byeenkoms by die Ou Tronk.
Die Heigel Fotoklub het op 9 April hul gebruiklike maandelikse vergadering by die Ou Tronk in Heidelberg gehou.
Die voorsitter, Dawie de Villiers, het die lede hartlik terugverwelkom en meer inligting gedeel oor die verskillende fotokompetisies waaraan lede kan deelneem.
Die klub is gestig vir fotograwe in die omgewing en sluit lede van sowel Nigel as Heidelberg in.
Gedurende die afgelope maand is net meer as 50 foto’s ingeskryf. Hierdie inskrywings is deur beoordelaars bespreek en die beste werke is uitgelig.
Die voorgeskrewe tema vir April was Sportfotografie.

Die wenners is soos volg aangekondig:
• Voorgeskrewe tema-wenner: Deur die brander geneem deur Dawie de Villiers
• Beste algehele wenfoto: The Spooned Symphony geneem deur Michelle van Niekerk
• Beste junior wenfoto: Vettie geneem deur Monica van der Merwe
Die voorgeskrewe tema vir Mei is “Kosmos en ander blomme.”

Die klub beplan ook om op 30 Mei hul jaarlikse groot funksie aan te bied. Tydens dié geleentheid sal die nuwe bestuur aangewys word, merietesertifikate uitgedeel word, en toekennings vir mees verbeterde fotograaf sowel as Fotograaf van die Jaar oorhandig word. Verdere besonderhede oor die geleentheid sal binnekort aangekondig word.
Enigiemand wat belangstel om meer oor fotografie te leer of by die klub aan te sluit, kan die voorsitter, Dawie de Villiers, kontak by 084 600 5765.
Die volgende vergadering sal op 8 Mei plaasvind.



