Nigel Rugbyklub se jaarlikse rugbydag het op 7 Maart plaasgevind
Nigel Rugbyklub se spelers het hul staal gewys tydens hul jaarlikse rugbydag by John Vorster Stadion wat op 7 Maart plaasgevind het.

Nigel Rugbyklub se spelers het hul staal gewys tydens hul jaarlikse rugbydag by John Vorster Stadion wat op 7 Maart plaasgevind het.
Die dag het afgeskop met Nigel o/21s wat kragte gemeet het met Germiston Simmer se tweedespan. Herman Kruger en Shane Muller van Nigel o/21s het elkeen daarin geslaag om ‘n drie te druk met Shane wat sy eie drie vervyf het. Nigel se span het die wedstryd met 18-8 gewen.
Die kragmeting tussen Nigel tweedespan en Heidelberg Rugbyklub se eerstespan het vir ‘n stampvol paviljoen gesorg. Henkie Marais het vroeg in die eerste helfte die eerste drie gedruk. Armand Steynvaart het kort voor halftyd die tweede en laaste drie van die wedstryd gedruk, wat die tuisspan met ‘n voorsprong van 10-3 teen halftyd gelaat het.
Met goeie verdediging van albei spanne was daar net drie punte gedurende die tweede helfte aangeteken nadat Heidelberg eerstes ‘n strafskop tussen die pale deurgestuur het. Nigel tweedes het met ‘n naelskraap oorwinning van 10-6 geseëvier het.
Nigel se eerstespan het dwarsdeur die wedstryd teen Germiston se eerstes goeie balbesit gehandhaaf wat Germiston gedwing het om hard aan hul verdediging te werk. Nigel eerstes het agt drieë gedruk teenoor Germiston se twee met twee doelskoppe elk. Nigel spelers wat met die bal oor die doellyn geduik het, is Ruan Bezuidenhout, Tyler Pike, Heinrich Bouwer, George Fritz, Dean Wiehan (twee drieë), Ferdi Erasmus en Willem Botha. Nigel se vuurwarm voorspelers en puik verdediging het die deurslag gegee en die telbord het die finale storie vertel: Nigel 46-14 Germiston.
Louis Bezuidenhout (voorsitter) het die publiek bedank vir hul ondersteuning en die klub se spanne geluk gewens met hul uitstekende spel.
Nigel Rugbyklub se volgende wedstryde vind op 28 Maart plaas wanneer hulle Loskop Rugbyklub te Groblersdal gaan pak. Die spanne wat kragte gaan meet in dié vriendskaplike wedstryde is albei klubs se eerste- en tweedespanne. Vir meer inligting, skakel Louis Bezuidenhout by 082 335 0853.



