Bloedsweet by Bootcamp
NIGEL - Driekeer ‘n week trotseer ‘n groep oefengeesdriftiges die winterknyp, wanneer hulle om 18:00 by Hoërskool John Vorster se sportgronde vir Bootcamp bymekaarkom.

Hulle staan as “campers” bekend en dit hardloop, spring, huppel en hurk met een doel voor oë, want terwyl die bene brand en die asems jaag, smelt die vetjies ook sommer weg.
Of jy elke dag drag of jare laas geoefen het, ‘n fiksheidsoefenkamp klink dalk na die laaste ding waarby jy wil aansluit, maar Bootcamp is nie so skrikaanjaend of militaristies as wat meeste mense dink nie.
Bootcamp is ‘n oefentegniek wat in die Amerikaanse Vloot ontstaan het om rekrute fiks te maak. Dit is ‘n vinnige manier van fiks en maer word en die vier weke program behels ‘n uurlange oefensessie wat krag-, kardio en weerstandoefeninge kombineer. Bootcamp is hope pret en ‘n groot uitdaging vir enige persoon wat ‘n paar kilogramme wil afskud of net ‘n gesonde leefstyl wil handhaaf. Die program word hoofsaaklik in die buitelug aangebied en is spesifiek ontwerp om fiksheidvlakke oor ‘n tydperk van vier weke te verbeter.
Cindy Van der Westhuizen is die fiksheidinstrukteur by Nigel se Bootcamp en bied die vier weke program gratis aan. Sy moniteer elke lid se vordering streng om te verseker die gewensde resultaat word aan die einde van die vier weke behaal.
“’n Gesonde leefstyl word nie in die winter saam jou somerklere weggepak nie,” het fiksheidinstrukteur Cindy van der Westhuizen verduidelik en gesê winter is die aangewese tyd om aan ‘n soepel somerlyf te werk. “Daar is geen verskoning om nie te oefen wanneer dit koud en onplesierig is nie. Harde werk en deursettingsvermoë word altyd beloon,” is die woorde waarmee sy haar rekrute gereeld aanmoedig.
Cindy beplan ‘n aanbiedingsaand vir Donderdag 26 Mei om 18:00 om belangstellendes meer oor Bootcamp en leefstyl-produkte in te lig.
Vir meer besonderhede, skakel Cindy by 072 455 8211.










