Buffels kraai koning in Kestrel rugbyliga
Kort na afskop in die tweede helfte het Buffels weer die eerste punte aangeteken om ‘n voortou van twee punte te neem.
Die Buffels het Oos-Rand Polisie op 25 Augustus tydens die finale kragmeting van Kestrel rugbyliga gewys waar Dawid die wortels gegrawe het toe hulle die wedstryd met ‘n eindtelling van 38-34 beklink het.
Buffels het die eerste punte van die wedstryd wat by Barnard Stadion in Kempton Park gespeel is, aangeteken. Dit is met ‘n strafskop deur Oos-Rand Polisie opgevolg. Daarna was die Buffels op die verdediging, veral toe die opposisie die telling met ‘n drie en suksesvolle doelskop na 10-3 opgestoot het.
Sake het nie goed gelyk vir die Buffels nie en na nóg twee drieë en suksesvolle doelskoppe het die telbord op 24-5 in Oos-Rand Polisie se guns gerus. Buffels het ‘n verbete stryd opgesit en kort voor halftyd tweekeer agter die opposisie se pale gekuier. Beide drieë is suksesvol verdoel en dit het die telbord teen halftyd op 24-19 in Oos-Rand Polisie se guns te staan gebring.
Kort na afskop in die tweede helfte het Buffels weer die eerste punte aangeteken om ‘n voortou van twee punte te neem. Met hernude passie het die Buffels nog ‘n drie gedruk en die telbord het op 31-24 in hulle guns gestaan toe Oos-Rand Polisie se sterk aanval tot twee drieë gelei het. Met slegs ‘n paar minute op die klok het die Buffels soos by elke kragmeting, diep gedelf en ware karakter getoon toe hulle die wendrie (wat ook suksesvol verdoel is) gedruk het. Die eindfluitjie het hul oorwinning van 38-34 beklink.

Die Buffels se puntemakers was Maurice Kenny (twee drieë), Danie Dempskey, JP Adlem, Arno van Niekerk en Nathan Richards. Christiaan Pieters het met vier doelskoppe geslaag.
Die Buffels se bestuur het alle borge en ondersteuners vir hul betrokkenheid bedank en ‘n spesiale woord van dank teenoor die beheerliggaam van Hoër en Laerskool Balfour uitgespreek vir die gebruik van hul fasiliteite gedurende die seisoen.
Follow us:



