Veteraan spoedvraat slaan tweedeplek los
Die 76-Jarige veteraan motorrenjaer van Nigel, Fred van Zyl het op 25 Julie tweedeplek tydens die RPT Rally sprint series by Carousel (net buite Pretoria) beklink.

Hy het die 14km spoedresies agter die stuur van sy voorwielaangedrewe Toyota Conquest 1.6 opgeboude renmotor voltooi, maar wat dié prestasie merkwaardig maak, is die feit dat Van Zyl ondanks sy ouderdom, las met swak sig en ‘n rugbesering, stof in 27 ander deelnemers (waarvan sommige nog nat agter die ore is) se oë geskop het.
“Die tweedeplek frustreer my. Ek herstel eintlik nog van ‘n besering wat ek tydens ‘n wedren in Desember opgedoen het en boonop moet ek eersdaags ‘n operasie ondergaan om katarakke van my oë te verwyder. Dit was klein jakkalsies wat my die eersteplek gekos het,” het hy teenoor HERAUT erken.
Volgens Van Zyl het hy in Desember tydens ‘n gevaarsituasie met sy voorwiele in ‘n sloot beland. Met impak het hy ‘n paar rugwerwels gekraak en ook ligamente is sy arm geskeur, maar hy het die wedren ten spyte daarvan voltooi en sy kleinseun en navigator Hennie Mostert vir sy leiding bedank.
As kampioen van die plaaslike motorwedrenne, sê Van Zyl dat hy nie kan bekostig om punte af te staan nie en lê tans tweede op die punteleer. Indien hy nie op 25 Julie deelgeneem het nie, sou dit hom 15 punte gekos het.
Van Zyl het in 1982 sy eerste resiespak aangetrek en sommer dadelik derdeplek tydens ‘n wedren in Middelburg losgery. Hy het daardie jaar nie weer ‘n wedren verloor nie en teen die einde van die seisoen het Fred 11 van 12 wedrenne gewen.
In 1983 het Nissan hom die geleentheid gegee om in die eerste Castrol voorwielaangedrewe voertuig (VAV) resies deel te neem. Hy het nie tweekeer gedink nie en die geleentheid aangegryp. Van Zyl het uitstekend gevaar in dié toernooi en het met die finale resies met net twee punte voorgeloop. Hy het dié afdeling gewen en was as die heel eerste Suid-Afrikaanse VAV (1600cc en onder) kampioen gekroon.

Gedurende 2003 het Van Zyl sy resiespak in die kas opgehang, maar 10 jaar later het die vuur binne hom weer opgevlam en hy het ‘n renmotor opgebou om aan die Cullinan Rally Sprint deel te neem. Hy het dié wedren sonder remme aangedurf en gewen en ná die afsterwe van sy vrou verlede jaar, het Van Zyl besluit om sy resiespak permanent af te stof.
Die kampioen renjaer het weer bewys dat ouderdom net ‘n nommer is toe hy op 16 November tydens die HMC Rally in Cullinan, eersteplek beklink het. Hy skryf sy sukses op die stowwerige renbaan aan die Allerhoogste toe en sê dat hy na elke wedren op sy kniëe gaan en die Here dank.
Van Zyl sê hoewel die Covid-19 inperkings ‘n groot invloed op die sport en ondersteuning daarvan het, sien hy uit na die volgende wedren wat later vanjaar plaasvind. Besonderhede oor waar en wanneer dit plaasvind, is nog nie bekendgemaak nie.



