Oud-Vossie word junior Puma ambassadeur
Robinn Thornburn is onlangs deur die vooraanstaande sporthandelsmerk Puma School of Speed, as een van ses junior baan- en veldatlete vir die opkomende atletiekseisoen aangewys.
Benewens dié toekenning, sal Robinn en die ander kontrakwenners as ‘Future Stars’ (soos na hulle verys word) toegang hê tot die elite ambassadeurs wat ondermeer leiding op en van die veld bied.
HERAUT lesers sal Robinn onthou toe sy sowat 10 jaar gelede die eerstekeer haar buiging as naellope atleet by Laerskool Tini Vorster gemaak het. Die destydse kaalvoetkind wat tydens elke byeenkoms stof in ander atlete se oë geskop het, se foto en prestasies het jaarliks in die koerant verskyn en haar vordering op die atletiekbaan is met groot belangstelling dopgehou.
Later tydens haar hoërskoolloopbaan wat eers by Hoër Volkskool afgeskop het, het Robinn voortgebou op haar prestasies en vinnig opgang in die atletiekkringe gemaak. Sy is deesdae ‘n Graad 11-leerder by Hoërskool Menlopark waar sy haar atletiekloopbaan onder leiding van haar afrigter Charley Stohmenger, na nuwe hoogtes neem. Robinn het in 2018 aan die Suid-Afrikaanse atletiekkampioenskappe deelgeneem waar sy tweedeplek in die 400m meisies o/15 naellope-item behaal het. Die daaropvolgende jaar het sy vyfdeplek in die 400m meisies o/16-item behaal.
“Ek wil ander jong atlete inspireer om nooit moed op te gee en hul doelwitte te bereik nie. Die Puma School of Speed is soos geen ander baan- en veldbyeenkoms in Suid-Afrika nie. Ek hou van die gees en entoesiasme wat ek by die byeenkomste ervaar het en kan nie wag om my Puma-uitrusting by die 2021-byeenkomste te laat rock nie. My fokus is op die verbetering van my tyd,” het Robinn gesê.
Sy het bygevoeg dat sy trots is op die Puma handelsmerk aangesien die wêreld se vinnigste man Usain Bolt, haar held is. Die Puma School of Speed reeks wat in 2016 gestig is, word deur dié internasionale altleet gelei en hy is verbind tot die identifisering en ontwikkeling van jong atletiektalent in Suid-Afrika. Om daarby aan te sluit het Brett Bellinger (direkteur van bemarking van Puma) gesê hulle is opgewonde om die ses uitsonderlike jong atlete as Puma Future Stars te verwelkom.

Wat Robinn se toekoms betref, beslaan atletiek ‘n groot deel van haar planne en sy hoop om na skool regte in Europa te studeer. Sy het haar ouers en haar afrigter vir hul deurlopende ondersteuning bedank en gesê sy sien daarna uit ná skool atletiekafrigting by die bestes onder die bestes ter wêreld te ontvang.
“Puma School of Speed het vanjaar skouspelagtige resultate gelewer, wat die keuringsproses moeilik gemaak het. Hierdie ses atlete het ons regtig beïndruk. Ons sien uit daarna om elke tree van die pad saam met hulle te wees terwyl hulle voortgaan om te presteer in die opwindende sportsoort van baan en veld,” het Bellinger afgesluit.



