Nigel het op 30 Julie hulle laaste ligawedstryde in die Merlin Liga teen Edenvale Panthers gespeel.
Die wedstryd was baie mededingend gewees.
Die Panthers het Nigel op ‘n stadium laat klippe kou en gesorg dat die wedstryd aan al die verwagtinge voldoen het en dat die toeskouers waarde vir hulle geld gekry het.
Nigel het Edenvale 27 -12 getroef.

Nigel se Blou Trein het eerste punte aangeteken toe hulle in die vyfde minuut hul eerste drie gaan druk het, wat vervyf was.
Daarna was die wedstryd baie gelyk waar beide spanne ernstig aangeval het en ook vir ‘n vale verdedig het.
Edenvale het volgende punte aangeteken. Hulle het in die 30ste minuut agter Nigel se doellyn gekuier en die drie was vervyf.
Nigel het daarna vining terug geslaan en in die 36ste minuut weer ‘n drie gaan druk. Die vervyfskop was mis.
Die halftydtelling was Nigel: 17 – Edenvale 7.

In die tweede helfte was die wedstryd baie gelyk, waar beide spanne hul man gestaan het en nie ‘n duim gegee het nie. Nigel het in die tweede helfte twee verdere drieë gedruk.
Die vervyfskoppe was nie suksesvol nie.
Edenvale het weer een keer agter Nigel se doellyn gaan kuier waar die doelskop ook nie oor was nie.
Edenvale het ook met twee strafskoppe pale toe verbrou.

Daar was altesaam 24 strafskoppe gewees – beide spanne was 12 keer elk gestraf. Daar was ook 22 skrums en 24 lynstane in die wedstryd gewees.
Die skeidsregter het ‘n geel kaart ook aan elke span gewys.
Die eindtelling was Nigel 27 – Edenvale 12.

Nigel puntemakers was vir drieë Jarico van Niekerk, Pierre Labuschagne (2) Junaide Seedat (2) en vervyfskoppe Junaide Seedat (1).
Dean Wiehann was die man van die wedstryd.
In die voorwedstryd het Nigel se tweede span teen Edenvale se tweedes te staan gekom. Die eindtelling was Nigel 52 – Edenvale 0.
Daar was geen keer aan Nigel nie en het met spoed verseker dat Edenvale nie ‘n kans gestaan het nie.
Halftyd was Nigel alreeds 31 – 0 voor.

In die tweede helfte het Nigel aangehou waar hulle in die eerste helfte mee gestop het en die drieë in beide die eerste asook tweede helfte ingeryg.
Nigel het as oorwinnaars van die veld afgestap en het die Merlin Tweede Span Trofee behou wat hulle in 2021 verower het.
Die eindtelling was Nigel 52 – Edenvale 0.

Die puntemakers met drieë was Marthunis Fourie, Enzo Henning, Ruan Nell, Andile Shange (2), Wian Engelbrecht, Simphiwe Jange (2) em met doelskoppe Ruan Nell (5) en Wian Engelbrecht (1).
Freedom Ngubeni was die man van die wedstryd.
Nigel speel op 6 Augustus teen Kempton Park in die semi-finale op John Vorster Stadion.



