Sport

VIDEO: Gesogte Nason’s Beker word uit Nigel se trofeekas gegaps

Daar is ooreengekom dat die twee klubs op 8 Februarie mekaar die stryd gaan aansê.

Lede van die Nigel Rugbyklub het die naweek van 13 September met skok agtergekom dat hulle gesogte Nason’s-Beker uit die vertoonkas gegaps is.

Die Nason’s is die beker waarvoor die Heidelberg- en Nigel Rugbyklubs jaarliks meeding vir spogregte.

Nigel het dié belangrike beker in Maart verower ná ’n harde wedstryd teen Heidelberg, waar hulle met 29–22 koning gekraai het.

Die gesogte beker het daarna sy staanplek gekry in Nigel se trofeekas tot groot genot van die Nigel-spelers.

’n Leidraad wat lig op die ‘diefstal’ van die beker gewerp het, is gelukkig agtergelaat op die plek waar dit uitgestal is.
Daaruit was dit duidelik wie verantwoordelik is vir die ‘diefstal’.

’n Handgeskrewe nota op ’n bierboks is agtergelaat met die boodskap: “Dankie vir die beker. #Berge was hier. Bel ons vir collection!”

By navraag het die president van Heidelberg Rugbyklub, Jaco van Rensburg, alle bewerings ontken dat hulle die beker geneem het. Hy het wel bevestig dat dit op een of ander onverklaarbare manier in Berge se klubhuis te staan gekom het.

“Ons sal natuurlik mooi na die beker kyk terwyl hy hier by ons is, maar as Nigel hom wil terughê, sal hulle beslis moet bewys dat hulle dit verdien,” het Van Rensburg gesê.

Die vertoonkas waar die Nason’s Beker gestaan het, en waar die hand geskrewe nota agter gelaat is.

Daar is ’n voorstel gemaak dat die twee plaaslike rugbyspanne weer teen mekaar moet speel om die regte tuiste vir die beker te verseker.

Daar is ooreengekom dat die twee klubs op 8 Februarie mekaar die stryd aansê om eienaarskap van die beker vir die volgende jaar te bekom.

In die toekoms gaan nie net die eerste spanne nie, maar ook die tweede spanne jaarliks vir ’n beker speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button