Heidelberg se sakegemeenskap rol vir roem in Lente Besigheidsliga
Met 28 spanne in aksie en slegs minute om elke spel te wen, beloof die 2025 Lente Rolbal Liga ’n opwindende seisoen.
Die 2025 Lente Rolbal Besigheidsliga het op 16 Oktober afgeskop toe die eerste balle op die bane van Heidelberg Rolbalklub gerol is.
Die gewilde liga, wat twee keer per jaar aangebied word, lok weer eens ’n groot aantal sakeondernemings en plaaslike instellings wat meeding vir eer, trots en die gesogte trofeë.
Vanjaar neem 28 spanne deel: 3 Baconeers, Bendet Bowlers, Bendet Solidworkers, EHS Industries, Freestock Steel Traders, Heidelberg Hope, HHR Engineering, Howell Properties, Howell Social, MMG Motor Group, MMG Motor Group 2, Multivac 1, Multivac 2, Multivac 3, Re/Max, Suikerbosrand Makelaars, Stage Zero, Tigris Insure, Tigris Wealth, Imvubu Trading, Autocity Mahindra Heidelberg, Protek, Jetour Alberton, LCS Group, Autocity Nigel Nissan, Autocity Nigel Nissan 2, LCS Logistics en Big Digs.

Die herfswenners, CA Financials, het die standaard hoog gestel, maar hierdie seisoen is daar ook groot opwinding oor wie met die geesbeker en die ‘toucher’-trofee gaan wegstap.
Die huidige geesbekerkampioene, LTE Glass en Aluminium, sal hul titel met trots verdedig.
Die kompetisie vind elke Donderdag plaas (afhangende van die weer), met die finale wat op 30 Oktober beslis sal word.

Die wedstryde word op ’n rondomtaliebasis gespeel, met elke kop wat binne 40 minute voltooi moet word.
Herman van der Merwe het deelnemers hartlik verwelkom, waarna die klub se voorsitter die byeenkoms met gebed geopen het.
Werner Schipper het daarna die reëls en wedstrydriglyne aan die spanne verduidelik voordat die eerste wedstryde afgeskop het.
Die spanne sal op 23 Oktober weer in aksie wees.




