Heidelberg Rugbyklub berei reeds voor vir 2026 seisoen
Die spelers, afrigters en bestuur sien uit na die 2026 seisoen en is reeds besig met die voorbereidings.
Die Heidelberg Rugbyklub, bekend as Berge, is reeds besig om hulself reg te skaaf vir die 2026 rugbyseisoen.
Ná ’n indrukwekkende 2025-seisoen waarin hulle net die uitspeelrondes naelskraap misgeloop het, is die klub vasbeslote om vanjaar sterker as ooit te wees.
Die Berge gaan in 2026 deelneem aan verskeie ligas en toernooie, insluitend die plaaslike en gewilde derby teen Nigel Rugbyklub op 7 Februarie.
Verder sal die span meeding in die Presidentsbeker sowel as die Valke Merlin-liga, met die hoofdoel om hul beste seisoen nog in die Merlin te beleef.
Die klub het reeds die eerste oefensessie van die jaar agter die rug, met meer as 30 spelers wat tot dusver aangesluit het.

Oefeninge vind plaas elke Dinsdag en Donderdag van 18:30 tot 20:30 op die velde van Hoër Volkskool.
Die klub verwelkom veral o20-spelers om in te skakel aangesien daar beplan word om ’n o20-span in die liga in te skryf.
Die eerste span word onder die leiding van hoofafrigter Mario Jordaan afgerig, terwyl die tweede span deur Len du Toit en Johan Deyzel gelei sal word.
Vir navrae kontak die klubvoorsitter, Jaco van Rensburg, by 060 575 6081, of die ondervoorsitter, Nico Janse van Vuuren, by 060 528 0018.



