ERIK van Zyl, ‘n 2013 matrikulant van Hoërskool Jeugland, wil graag rekenaarprogramme skryf vir ‘n lewe.
Hy hoef dit nie meer in sy vrye tyd te doen nie, want dit is in hierdie rigting, BSc Rekenaarwetenskap, wat hy vanjaar by Stellenbosch gaan begin studeer.
Hy sien rekenaarprogrammering as iets hoogs kreatief, soos sy musiek-vak wat hy in die vorm van sang in sy praktiese musiekeindeksamen gedoen het.
Van Zyl het agt onderskeidings in die 2013 matriekeindeksamen gekry. Dit was vir Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, wiskunde 3, inligtingstegnologie, musiek en fisiese wetenskap.
In sy vrye tyd het hy altyd programme vir die rekenaar geskryf. Hy geniet ook musiek. Benewens om te sing, speel hy ook verskeie musiekinstrumente en komponeer liedere. Hy lees ook ‘n wye verskeidenheid boeke as hy kans kry.
Hy het gesê die prestasies in sy vakke is nie as gevolg van iets spesiaals wat hy gedoen het of net hard vir die eindeksamen geleer het nie. Hy glo daaraan om seker te maak sy werk is elke dag op datum.
Hy het positiewe mense om hom, soos sy ouers en Jeugland se onderwysers, wat hom daagliks inspireer.
Van Zyl en sy ouers het op 1 Desember na Parrow in Kaapstad getrek. Hulle het voordat hy skool toe gegaan het na Kemptonpark verhuis en besluit om terug te gaan sodra hy klaar met skool is. Hulle het baie vakansies daar gaan kuier, so die Kaap is niks onbekend vir hulle nie.
