HY het van jongs af besef dat jou skooljare bepaal watter werk jy eendag gaan doen, vertel Niel du Plessis, oud-hoofseun van Hoërskool Kemptonpark.
Ten spyte van sy pa, André se dood die dag voordat hy sy wiskunde-vraestel geskryf het, het hy steeds agt onderskeidings in die 2013 matriekeindeksamen gekry.
Dit was vir Afrikaans, Engels, lewensoriëntering, wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp en Alpha wiskunde.
Hy is opgewonde om vanjaar bedryfsingenieurswese by Tuks te gaan studeer. Hy voel hierdie studierigting, een van dié waaraan wêreldwyd en in Suid-Afrika ‘n groot tekort is, het baie geleenthede.
Met hierdie kwalifikasie en nadat hy ‘n paar jaar in die veld gewerk het, wil hy graag eendag reis en in ander lande gaan werk.
Du Plessis sê hy het vanaf graad 4 hard gewerk aan sy akademie. Sy ma, Christine, ‘n onderwyseres van beroep, het hom geleer hoe om sy skoolwerk te leer. “Dit verg dan toewyding,” het hy gesê.
Du Plessis kry sy inspirasie van ‘n “klomp klein dingetjies”, maar meestal om van harde werk resultate te kry. Hy het dit van sy ouers geleer.
Hy dryf homself harder as eksterne faktore om goed te presteer. “Ek het van jongs af geweet as ek eendag ‘n goeie werk wil hê, ek goed op skool sal moet doen. Dit is ‘n goeie fondasie,” het hy gesê.
Vir ontspanning kyk Du Plessis graag reekse op TV of speel Xbox saam met sy jonger broer, Marco. Hy kuier graag saam met sy maats of kom so nou en dan in die natuur deur visvang of uitkamp.
Hy en Marco het twee weke gelede begin leer om kitaar te speel.
Du Plessis gaan vir eers elke dag universiteit toe ry, want hy is op die waglys van Olienhout-koshuis.
