HOËRSKOOL Jeugland het as gasheer opgetree vir die Perfect Life Loopbaanskou.
Om lewenslange leer aan te moedig en leerders te motiveer tot tersiêre opleiding, het die lewensoriënteringspersoneel besluit om hul eie loopbaanskou verder uit te brei deur hierdie jaar ander skole in Kemptonpark ook te nooi.
Veral die kleiner skole met min graad 12 leerders, wat nie noodwendig individueel deur bemarkers besoek word nie, het groot baat hierby gevind. Agt skole se graad 12 leerders en by sommige ook die graad 11 leerders, het die skou bygewoon.
Ongeveer 1 000 leerders en talle ouers het hierdie geleentheid gebruik, selfs ouers en hul kinders wat tuis onderrig ontvang . Skole wat die skou bygewoon het, was Hoërskool Kemptonpark, Curro Serengeti, Tersia King, Maranatha Christian School, Oos-Rand Akademie, Windsor House Academy en SAFA Transit Football School of Excellence.
Perfect Life het die leerders gratis van hul eie skole na Jeugland vervoer. Hier kon hulle deur die uitstalling stap en inligting by die bemarkers van die meer as 50 tersiêre instansies wat verteenwoordig was kry, hul vrae vra en onsekerhede uit die weg ruim.
Buiten die groot universiteite was daar ook ‘n verskeidenheid VOO kolleges en ander instansies verteenwoordig.
Jeugland beoog om hierdie skou jaarliks aan te bied en hoop om nog meer skole te betrek.
