Kleuters help om jawoord te vra
Bruwer het ja gesê en dit het uitgedraai om een van die wonderlikste dae in hul lewens te wees
‘n Kleuterskoolklas het sonder dat hul juffrou dit geweet het, haar kêrel gehelp om haar die jawoord te vra.
Michelle Bruwer van Innie-Woud Kleuterakademie in Bonaeropark het trane van blydskap gehuil nadat Adriaan Scholtz, haar kêrel vir die laaste agt jaar, haar op 21 Februarie gevra het om te trou.
Maar Scholtz het dit nie op die gewone manier gedoen nie, hy het die hulp van een van die klasse by die kleuterskool ingespan.
Die kleuters het heel week geoefen, en toe die groot dag kom, het hulle langs mekaar in ‘n ry gestaan, elk met ‘n letter op papier. Die letters het die woorde ” Will you marry me?” opgemaak.
Die kinders het heel week geoefen, en Bruwer het saam geoefen, maar sy was nie bewus van waarvoor daar geoefen word nie.
Scholtz het vooraf met Talitha Kruger, eienaar van Inni-Woud, en Hazel Keet gereël om hom te help om Bruwer op ‘n spesiale manier die vraag te vra.
Nadat Scholtz ‘n idee gegee het van wat hy wou doen, het Kruger, Keet en die kinders saam met ‘n plan opgekom.
Kruger het gesê dat hulle Bruwer laat verstaan het dat hulle oefen om vir ‘n grootskool op te tree. Sy het nie onraad vermoed nie en heel week saam met die kinders geoefen.
Op die Vrydagoggend het Bruwer en die kinders buite gestaan en vir die kinders van die grootskool gewag.
Bruwer het gesê dat sy in ‘n stadium omgedraai het en vir Scholtz daar sien staan het.
Sy het hom gevra wat hy daar doen en hy het vir haar gesê om om te draai.
Toe sy weer omdraai, het die kinders hul plakkate op gehad en sy het die groot vraag gesien. Sy het toe weer na Scholtz gedraai, wat toe op sy knieë was met die verloofring.
Bruwer het ja gesê en dit het uitgedraai om een van die wonderlikste dae in hul lewens te wees.
Scholtz en Bruwer het gesê dat hulle nog nie ‘n datum vir die troue het nie, maar dat hulle aan iewers in Oktober dink.
Bruwer het gesê dit moet so gou moontlik gebeur, want sy het al agt jaar gewag.
Die kleuters met hul plakkate saam met die paartjie.

