NewsSchools

Gestremdes is nuwe hoof se passie

Ons kan nie net die kinders op skoolfase help nie, ons moet seker maak dat hulle na skool in die ekonomiese sektor funksioneel is

RENIER Petersen is vanaf 1 April die nuwe hoof van Con Amore Skool.

Hy volg in die voetspore van Kumi Gieselbach, wat onlangs afgetree het.

Petersen, wat al vir 22 jaar by spesiale skole skool gee, het gesê hy is baie opgewonde oor die nuwe pos.

Hy het by Goudstad Onderwyskollege studeer en is toe weermag toe. Daarna het hy by Elandspark begin skool gee. Hy was die afgelope 13 jaar by Belvedere Skool in Benoni waar hy ook adjunkhoof was.

Hy het gesê dat dit vir hom ‘n aanpassing is om nou hoof te wees, maar dat hy dit geniet. Sy personeel is fantasties en hulle ondersteun hom baie in sy nuwe leierskaprol.

Sy passie lê by kinders met gestremdhede en rugby. Hy is voorsitter van die Valke Spesiale Skole Rugby-unie en president van die Noordvaal Spesiale Skole Rugby-unie.

Hy is ook tegniese adviseur en lid van die Suid-Afrikaanse Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes Rugbyvereniging (SALSOB).

Petersen het gesê dat mense dikwels die vermoë van spesiale leerders onderskat en om daardie denkwyse te verander, is een van sy doelwitte as hoof.

Hy wil ook die gemeenskap meer betrokke by die skool kry en bewus maak van die kinders, wie hulle is en waar hulle vandaan kom.

Petersen het genoem dat die ekonomiese mark in SA nie reg is om kinders wat uit spesiale skole kom, te integreer nie.

“Dit is deel van die groter prentjie. Ons kan nie net die kinders deur die skoolfase help nie. Ons moet seker maak dat hulle na skool in die ekonomiese sektor opgeneem kan word en deel wees van ‘n funksionele gemeenskap.”

Een van die baie ander faktore wat hy wil aanspreek, is die wye spektrum van gestremdheid waarmee kinders sukkel. “Ons moet almal kan akkommodeer, van die kinders met ‘n baie lae kognitiewe funksie tot die kinders wat intellektueel sterker is.”

Terwyl akademie vir hom belangrik is, speel terapie en onderrig in lewensfunksies ‘n baie groot rol in die kinders se opvoeding.

Hy het gesê dat die bestuur van die skool sy primêre funksie is, maar dat daar talle ander kwessies is waaraan aandag gegee moet word.

Hy vergelyk die bestuur van die skool en onderrig van die kinders met elektriese drade. “Mens moet die regte drade tussen al die ander vind en individueel aan hulle aandag gee. Net so moet mens elke kwessie identifiseer en die nodige werk daaraan toewy.”

Petersen het gesê dat hy hier is vir ‘n doel. ” Ek wil die kinders se morele waardes uitbou en hulle help om in die wêreld geïntegreer te word. Ek wil hê ons moet ‘n skool wees wat ons hart op ons mou dra, sodat wanneer mense die skool binnekom, hulle dadelik die liefde en empatie wat hierdie kinders en alle mense nodig het, kan voel.”

Enigeen wat op enige manier by die skool betrokke wil raak, kan Con Amore by 011-976-1037 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button