LAERSKOOL Impala het sy nuwe amfiteater amptelik in gebruik geneem.
Die Impie-Amfiteater is nog een van die vele projekte ter vernuwing en uitbreiding van geleenthede vir die Spog-Impies.
Die Impie-Amfiteater gaan veeldoelig benut word vir akademie, kultuur en sport en is afgerond met ’n buitelug skaakbordstel.
Die doel van die buitelug skaakbord is om ‘n groter belangstelling in die spel te ontwikkel en sodoende die leerlinge se abstrakte denke, konsentrasie, beplanningsvermoë, geduld, sportmanskap, konsepvernuwing, afwagting, vermoë om te kies en te redeneer, uithouvermoë, wilskrag en wiskunde te verbeter.
Impala het goeie prestasies by die UJ kompetisie gehad wat aanleiding gegee het tot die uitbreiding van deelname aan die spel.
Op die gebied van akademie en kultuur word die leerlinge die geleentheid gebied om kuns- en kultuuropvoerings, asook voorlegging van mondelinge praatjies aan hul maats ten toon te stel.
Die Impie-Amfiteater bied ook aan leerlinge ’n gesellige area om pouses hul kos te geniet. Daar word ook beplan om buitelugvertonings deur instansies wat die skool besoek, hier aan te bied.
Met die alles in ag genome, blyk dit of die Impie-Amfiteater ’n reuse aanwins vir Laerskool Impala, wat reeds oor soveel puik fasiliteite beskik, sal wees.
Jan en Marete du Plessis is veral opgewonde oor die nuwe toevoeging, synde hulle vir die Ekurhuleni-skaakspan gekies is wat in Januarie aan die nasionale skaakkampioenskappe gaan deelneem.
