DAAR is vroeg vanoggend vir die tweede keer hierdie jaar by Laerskool Kruinsig in Glen Marais ingebreek.
Een verdagte is deur Alpha Sekuriteit op die terrein in hegtenis geneem.
Volgens die hoof, Johan Kruger, het een van hul werkers omstreeks 5.30vm iets verdags gehoor en Alpha gebel. Dié het dadelik uitgekom en een van die diewe betrap. Kruger het gesê dat daar waarskynlik twee inbrekers betrokke was.
“Ek is terneergedruk dat iemand ons kinders wil ontneem van hul reg tot onderrig,” het hy gesê.
Die klasse waarby daar nie ingebreek is nie, het soos normaal voorgegaan met lesse, terwyl leerlinge wat in die klasse is waarby daar ingebreek is, op die rugbyveld gewag het terwyl die polisie vingerafdrukke geneem het.
Dit is in dié stadium nog nie bekend of iets gesteel is nie.
Die skool het kort voor 9vm ‘n boodskap aan ouers oor die voorval uitgestuur. Daarin is gesê dat geen skietery plaasgevind het nie en dat onderrig en aktiwiteite voortgaan.
Nog inligting volg sodra dit bekend is.
In Januarie is daar by die skool se kantore ingebreek en verskeie rekenaars is gebuit.
