Kempie vlieg na nuwe hoogtes
Hy het die eerste keer alleen gevlieg toe hy 16 was
THYS Basson (18) van Hoërskool Kemptonpark het onlangs sy nagvlieglisensie ontvang.
Met hierdie kwalifikasie agter sy naam mag hy nou klein vliegtuie in die nag vlieg.
Basson, wat in Benoni bly, het die eerste keer gevlieg toe hy slegs 15 jaar oud was. Hy is lid van Hoërskool Kemptonpark se vliegakademie.
Basson, wat vanaf Wonderboom Lughawe vlieg, het in Januarie sy privaatlisensie ontvang.
Hy het gesê dat hy sy liefde en passie vir vlieg ontwikkel het toe hy nog baie klein was.
“My pa, Leon, werk by OR Tambo Internasionale Lughawe by die invoer- en uitvoerafdelings. Hy het my altyd saam werk toe gevat. Ek het altyd op ‘n vraghouer gesit en gekyk hoe die vliegtuie opstyg en land.”
Hy was 16 toe hy vir die eerste keer alleen gevlieg het. Die eerste vliegtuig wat hy gevlieg het, was ‘n Piper Cherokee. Hy vlieg nou ‘n Cessna 182.
Basson wil nou sy kommersiële lisensie kry en na skool by die lugmag aansluit.
Basson het gesê dit is vir hom baie lekker om alleen te vlieg, maar wat die heel beste van vlieg is, is die uitsig.
“Dit is wonderlik om byvoorbeeld oor ‘n rivier te vlieg en dit van bo te sien en nie net as ‘n stroompie nie, en te weet dit het ‘n naam.”
