Afriforum beplan tak in Kempton
Die stigtingsvergadering is op 16 Oktober

AFRIFORUM beplan om op 16 Oktober ‘n tak in Kemptonpark te stig.
Die stigtingsvergadering vind plaas om 6.30nm by die NG Gemeente Birchleigh in Olienhoutlaan.
AfriForum is ‘n nie-regeringsorganisasie geregistreer as ‘n maatskappy sonder winsoogmerk met die doel om minderhede se regte te beskerm.
Hoewel die organisasie op die internasionaal erkende beginsel van minderheidsbeskerming funksioneer, het AfriForum ‘n spesifieke fokus op die regte van Afrikaners as ‘n gemeenskap aan die suidpunt van Afrika.
Lidmaatskap is egter nie eksklusief nie en enige persoon wat hom met die inhoud van AfriForum se burgerregtemanifes vereenselwig, kan aansluit.
AfriForum wil graag ‘n tak in Kemptonpark vestig om aan die gemeenskap bystand en advies te bied. Die tak sal namens die gemeenskap kan handel insake plaaslike regeringsake, omgewingsake en gemeenskapsveiligheid.
Die tak sal sodoende toegang verkry tot al AfriForum se kundigheid, hulpbronne en regsadvies en/of regsverteenwoordiging vir hofaksies, tot die voordeel van die gemeenskap.
Om die tak te stig benodig die gemeenskap 50 lede om aan te sluit waarna ‘n bestuur verkies word. Die gemeenskap se lede verseker dat AfriForum ‘n mandaat het om namens die gemeenskap kwessies aan te pak en die verval in munisipaliteite te stuit. Die AfriForum-gemeenskapplan fokus daarop om gemeenskappe te mobiliseer om beheer oor hulle eie strate en woonbuurte te neem.
