‘n Graad 12-leerling van Hoërskool Kemptonpark het vanjaar die NWU Vaaldriehoek-kampus se jaarlikse GEEXPO-kompetisie gewen.
Hiermee het Brent Walsh ‘n drie-jaar beursaanbieding vanaf NWU ontvang, asook ‘n drukker en rekenaartoerusting. Die skool het ‘n kontantprys en die onderwysers ‘n skootrekenaar gekry.
Die kompetisie bied aan graad 10 tot 12 IT leerlinge die geleentheid om teen mekaar deel te neem met hul programmeringsvaardighede. Hulle praktiese assesseringstaak word deur verskillende beoordelaars beoordeel.
Die tema van die taak was om ‘n program te ontwikkel vir ‘n nie-winsgewende organisasie. Die tema van Brent se program was die bestuur van CANSA se Shavathon.
Brent het ook aan die Skole IT Expo interprovinsiaal deelgeneem wat op 18 Oktober by EOH (Embarcadero) in Eastgate aangebied is. Leerlinge word beoordeel op programme wat hulle ontwikkel het in enige programmeringstaal.
Brent se sekuriteit in sy Shavathon-program het die beoordelaars beïndruk en hy is aangewys as die beste senior programmeerder.
Hy het ‘n kontantprys en rekenaar-boekprys ontvang wat deur ‘n oorsese maatskappy geborg is.
