Editor's choiceLocal newsNews

Twee top skole sien nie kans vir departement se tweelingprojek

Beide hoofde het beklemtoon dat hoewel hul skole se beheerliggame na die versoek geluister het, hulle hul die reg voorbehou om nie daardeur outomaties tot die proses in te stem nie

TWEE van Kemptonpark se toppresterende skole (“flagship schools”) is onder die agt skole wat deur Gauteng Departement van Onderwys gekies is as deel van ‘n loodsprojek om met onderpresterende skole saam te werk.

Hoërskool Kemptonpark en Laerskool Kruinsig is sowat drie weke gelede deur die departement hieroor ingelig en die skole se ouers en beheerliggame is daarvan in kennis gestel.

Hierdie loodsprojek is van stapel gestuur om die haalbaarheid van die departement se idee te toets. Sou dit suksesvol wees, sal alle presterende skole in Gauteng hierby betrek word.

Volgens omsendbriewe wat deur die twee skole aan ouers gestuur is, is Kempies se tweeling-skool Boitumelong Secondary School en Kruinsig s’n Tlama Tlama Primary School. Beide is in Tembisa.

Tydens ‘n onderhoud met Kempton Express het mnr Roelof Burger, hoof van Kempies, dit duidelik gestel dat beide sy skool en Kruinsig die voorstel eers krities sal ondersoek en dat konsultasie met alle partye – beheerliggaam, onderwysers, ouers en leerlinge – sal plaasvind voordat enige besluit geneem sal word.

Mnr Johan Kruger, hoof van Laerskool Kruinsig, was teenwoordig tydens die onderhoud en het beaam dat die projek nog in sy babaskoene is en dat dit nog geen uitgemaakte saak is dat dit wel sal voortgaan nie.

“Baie dinge aangaande die projek is nog vir ons vaag en daar is groot onsekerheid wat die versoek inhou,” het Burger gesê.

Gesprekvoering met die beheerliggaamorganisasies en vakunies waar die skole geaffilieer is, is reeds op die hoogste vlak van stapel gestuur.

Van die agt skole wat deur die departement geïdentifiseer is, is ses Afrikaanse skole en twee Engels. Burger het gesê hy lig sy wenkbroue dat meeste van die skole Afrikaans is.

Die departement het ‘n omvattende dokument oor die projek aan die skole beskikbaar gemaak. Daarin word genoem dat die twee samewerkende skole se beheerliggame moet saamsmelt om ‘n nuwe beheerliggaam te skep. Die bevoegdhede van beheerliggame is egter verreikend en beide skole se liggame sien nie kans tot samewerking tot hierdie eenwording nie.

Die dokument maak geensins melding van wanneer wat moet gebeur nie en plaas dié verantwoordelikheid op betrokke skole se beheerliggame.

“Daar is veral twee kwessies wat ons in die stadium bekommer waaroor ons beslis meer duidelikheid moet kry. Dit is hoe finansies sal werk en wat met die term maatskaplike samehorigheid (“social cohesion”) bedoel word. Die gebruik van skoolfasiliteite skep ook baie vrae,” het Burger gesê.

Beide hoofde het beklemtoon dat hoewel hul skole se beheerliggame na die versoek geluister het, hulle hul die reg voorbehou om nie daardeur outomaties tot die proses in te stem nie.

Die departement het na die volgende aspekte gekyk toe daar op die “flagship schools” besluit is: puik akademiese prestasie, prestasie in sport en kultuur, gesonde en doeltreffende onderwysbestuur, goeie finansiële bestuur, billike en korrekte administrasie, goeie instandhouding, versorging van skoolgeboue en fasiliteite wat uitstekend in stand gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button