TYDENS die afgelope November-eksamen het drie leerders van Kemptonpark onderskeidelik die vierde, vyfde en sesde plekke in Alpha-wiskunde in Suid-Afrika behaal.
Zain Bekker van Hoërskool Jeugland het 96% behaal en Niel van Tonder en Jean-Pierre du Toit van Hoërskool Kemptonpark onderskeidelik 95% en 94%.
Nog drie leerders het uitslae bo 90% behaal. Clarista Sauerman van Hoërskool Jeugland het 92% behaal en Gustav Streicher en Rohan Serfontein van Hoërskool Kemptonpark onderskeidelik 91% en 90%.
Leerders skryf ‘n nasionale eksamen voor die departementele eksamen en die uitslae word reeds in November bekendgemaak.
Alpha-wiskunde (voorheen addisionele wiskunde) is ‘n buite-kurrikulêre vak wat aangebied word aan leerders met ‘n besondere belangstelling in wiskunde.
Alpha-wiskunde wil die sprong tussen skoolwiskunde en universiteitswiskunde verklein. Leerders wat beoog om in studierigtings soos ingenieurswese, toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap en aktuariële en handelsrigtings te studeer, word deeglik voorberei vir verdere studie.
Die ander leerders wat onderskeidings tydens die afgelope eksamen behaal het, is: Douw Jacobs (88%, Hoërskool Jeugland), Reinette Schultz (85% Hoërskool Jeugland), Melissa Bekker (83% ,Hoërskool Jeugland), Thornton Ford (83%, Hoërskool Jeugland), Adelishia Schreiber (82%, Hoërskool Birchleigh), Ilka Janse van Rensburg (80%, Hoërskool Jeugland) en Jean Smith (80%, Hoërskool Jeugland).
